3 maande gelede
Kids met groot K kort hulp
HELP: Lynette Muthuray, die kankerlyertjie Reneshme Hendricks en haar ma, Lezaan, by Tygerberg Hospitaal.  ~ Foto Verskaf

Die Childhood Cancer Foundation (Choc) is baie bekommerd oor die effek wat Covid-19 op die gesondheid van veral kinders met kanker gaan hê.

Choc is die grootste organisasie sonder winsbejag wat daarop fokus dat kinders en tieners toegang tot kankerbehandeling kry.

Lynette Muthuray, Wes-Kaapse en Namakwa-streekbestuurder van Choc, sê die kinders wat tans behandeling ontvang, het swak immuunstelsels.

“Weens die lockdown moet ons ons dienste inperk. Ons werk almal van die huis af om seker te maak ons ondersteun die kinders en families.”

Jaarliks help Choc sowat 1 000 kinders en tieners.

Uitreikwerk

Die programme sluit in mense wat as vrywilligers in hospitale en Choc-huise help. Hulle het ook programme vir kinders en tieners wat kanker geklop het.

Matthew Reid van Kaapstad, ’n kanker-survivor, doen uitreikwerk vir Choc.

“In 2010, toe kanker by my gediagnoseer is, was ek bang. Ek is bly my ouers het my nie toe vertel ek kan aan kanker sterf nie.

“Vandag praat ek graag met ander jong mense en bemoedig hulle sodat hulle kan aansterk en gesond word,” sê hy.

Muthuray sê dis baie bemoedigend wanneer hulle sien hoe jong mense tot die organisasie bydra.

Twee jong studente van Star College verkoop Choc badges. Rufaidah Gamieldien sê hul skool moedig hulle aan om vrywilligerswerk in die gemeenskap te doen en die geld aan welsynsorganisasies te skenk.

Verlies

Muthuray sê: “Weens die inperking moes ons baie van ons fondsinsamelingsgeleenthede kanselleer. Dit gaan tot ’n groot finansiële verlies ly. As dit voortduur, sal ons nie meer die noodsaaklike dienste aan ons begunstigdes kan bied nie.”

Sy het ’n beroep op die publiek gedoen om hul harte oop te maak.

Mense kan Choc ondersteun deur BackaBuddy se webtuiste, backabuddy.­co.za, te besoek. Tik “Support children Battling Cancer: Champion Page” in die soekveld en jy sal by Choc s’n uitkom. Mense kan so min soos R50 skenk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters