Verlede jaar
Kids kry bederf
groot bederf: Magda Meyer (middel met rooi T-shirt) saam met vrywilligers en die span kinders.Foto’s: KALLIE SMIT  ~ 

SARON. – ’n Egpaar en talle organisasies het ’n groot aantal kinders in die onlangse vakansie bederf.

Edward en Lucille Pa­tience van Lansdowne gee die afgelope vier jaar kos en klere aan behoeftiges in die omgewing.

Nadat Son onlangs berig het oor die groot dwelm­probleem hier, veral onder laerskoolkinders, het die egpaar besluit om iets spe­siaals te reël waarmee die kinders hulle kon besig hou.

Edward, wat grootgeword het in Saron, en sy vrou het die hulp van hulle kerk, die Gleemoor Baptist Church in Lansdowne, ingeroep.

Dié kerk, wat self op groot skaal liefdadigheidswerk doen, het ’n program vir die kinders opgestel wat van 1 tot 5 Oktober geduur het.

Tussen 400 en 500 kids is hierby betrek.

Sowat 40 vrywilligers het kom help. Baie van hulle is professionele mense en kenners op hulle gebied.

Dr. Leon Müller, ’n tandarts van Wynberg, het met twee assistente gekom om die kinders van tandesorg te leer.

Hy het ook gesorg dat ’n bekende vervaardiger genoeg tandepasta, tandeborsels en ander produkte vir die kinders skenk.

sê: aah! Dr. Leon Müller ondersoek Abigail Titus (8) se tande terwyl die ander kleingoed toekyk.

Die Stellenbosse organisasie The Campio Burns Group, wat brandslagoffers, vroue en kinders wat mishandel word en slagoffers van mensehandel bystaan, het die kinders meer oor dié kwessies kom leer.

Sport for Christ Action South Africa (SCAS) se opgeleide afrigters het die kinders ook in sportsoorte soos sewes­rugby, netbal en sagtebal touwys gemaak.

Kulturele aktiwiteite soos kuns, drama, sang en dans is aangebied.

Magda Meyer, ’n bekende liefdadigheidswerker van die Paarl, het gekom met haar trailer en massiewe driebeenpotte om vir die kids lekker kos te maak.

“Ek het nog nooit enige fondse of bydraes van die regering gekry nie, maar dis my passie om na almal uit te reik wat honger is,” sê Meyer.

Die kleintjies was soggens deel van die program, met tieners tussen 14 en 17 jaar wat smiddae gekom het.

Dit is een van die grootste opheffingsprogramme wat nóg in hierdie geweste aangebied is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters