14 dae gelede
Kerksuster bederf bejaardes
HEERLIK: Bejaardes sit in die buitelug en geniet die geselligheid nadat koek en tee vir hulle aangebied is.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Jong kerksuster se droom om bejaardes met ’n middagtee te bedien, het uiteindelik waar geword.

Maria Olckers sê die Covid-19-pandemie het haar teruggehou om die pensioenarisse sommer heerlik te bederf.

Olckers sê sy droom al lank daarvan om die mense met so iets te spoil.

Sy het geld bymekaar gemaak en skenkings vanaf ander kerksusters ontvang.

Verlede Sondag het sy die mense by haar woning bymekaargebring en aan elke oue van dae ’n heerlike koppie tee en koek bedien.

Die mensies het dit terdeë geniet en het hul lippe behoorlik afgelek.

Oupa Dan Solomon het gesê hy het lank laas so ’n lekker tyd gehad.

“Daar is tog nog mense wat vir onse ouer mense omgee. Ons waardeer dit opreg,” het Solomon dankie gesê.

Omsien

Olckers sê sy is baie bly oor wat sy vermag het.

“Die Bybel sê mos dat ons na onse ouer mense moet omsien.”

Sy wil almal bedank wat ’n handjie kom bysit het, asook diegene wat ’n skenking gemaak het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters