4 maande gelede
Karate champ makeer borge
Spog: Maxine Willemse met haar talle medaljes en trofees.Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

BORGE is al wat staan tussen ’n doelgerigte jong vrou van Eersterivier en haar drome.

Maxine Willemse (23) is Suid-Afrika se top-karatekampioen en vyfde in Afrika in die afdeling waarin sy spesialiseer.

Haar volgende stap is om haar plek oop te skop en tjop vir deelname in die span wat die land in 2020 op die Olimpiese Spele sal verteenwoordig. Willemse se grootse uitdaging is dat sy min finansiële ondersteuning van die land kry.

“Van 2008 tot nou betaal ek self om aan kompetisies oral in die land deel te neem,” vertel sy.

Sy het al drie wêreldkampioenskapstoernooie gemis omdat die reiskoste net te duur was.

“Ek moes in 2016 in Oostenryk compete het vir die wêreldkampioenskap en in 2018 in Spanje, maar ek kon nie. Ander kandidate is toe in my plek gestuur.”

Sukses

Willemse is bekommerd dat sy nou ook haar plek in die Olimpiese Spele gaan verbeur weens te min geld.

Mario Boer, Willemse se afrigter, sê die gebrek aan borge belemmer Willemse se sukses.

“Wat baat dit jy is uitstekend in sport, maar jy kan nie jou volle potensiaal bereik nie?”

Hy is van mening dít kan net gedoen word as jy jouself teen internasionale vegters toets.

Stacy McLean, ’n woordvoerder vir die departement van kultuursake en sport, sê hulle befonds nie individuele atlete nie.

“Ons gee geld aan sportklubs en -organisasies en maak ’n bydrae om atlete se finansiële las te verlig.”

McLean erken daar’s finansiële druk op atlete wat kwalifiseer om SA internasionaal te verteenwoordig.

Voornemende borge vir dié kampioen kan Boer by 082 835 4528 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters