Verlede maand
Kaptein en seun help SA regering
FC
AMBASSADEUR: Kaptein FC van Wyk het Suid-Afrika in Japan verteenwoordig en uitgehelp.  ~ Facebook

FREDERICK van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is onlangs Japan toe as ’n toeris, maar moes sommer instaan om as woordvoerder vir Suid-Afrika op te tree.

Kapt. Van Wyk het die land trots gemaak toe hy en sy seun Matthew (19) Japan toe is om die wedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland te gaan kyk.

Van Wyk vertel: “Ons was op pad stadion toe en het tyd op ons hande gehad om ’n bietjie rond te stap toe ons deur die Fan Walk stap.

“Daar was tente waar verskillende lande se ambassadeurs gesit het met pamflette en brosjures oor hul lande.”

Toe Van Wyk verby Suid-Afrika se tent loop en sien dit is leeg, hoor hy hoe toeriste snou: “Wat het jy van Suid-Afrika verwag?”

Wonderlik

Hy het onmiddellik ingegryp en by die tafel “Ambassadeur van Suid-Afrika” gaan sit.

Van Wyk het met toeriste gedeel oor hoe wonderlik sy land is.

“Ek het hulle vertel van die mense hier in Suid-Afrika en die strande, die mooi berge en die wynlande soos Stellenbosch,” vertel hy.

“Ek het gesê hulle moenie die land sien soos wat dit in die buiteland lyk met ál die misdaad nie.”

Pa en seun is groot Bok-ondersteuners en was voluit in hulle Bok-uitrustings geklee.

Van Wyk sê sy seun het ook later ingespring. Die twee het langer as 20 minute by die tafel gewerk en toeriste honger gelaat om in onse land te kom toer.

Matthew is ’n eerstejaar-kookkunsstudent en het ook gedeel oor die verskillende lekker kosse wat sy land het.

Van Wyk sê sy seun was agterna baie trots op wat hy gedoen het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters