Verlede maand
Kannetjie doen dit met bottels
KLEIN KAMPIOEN: Cody Koopman (8) in die wit hempie is hard aan die werk met ’n maatjie.  ~ Foto Verskaf

HY’S dalk Delft se jongste entrepreneur.

Maar wat belangriker is – hy is ’n outjie wat vir sy omgewing omgee.

Cody Koopman (8), ’n gr. 2-leerder van Eindhoven, wil eendag ’n miljoenêr wees.

Hy het laas jaar sy eie besigheid, Collectors, begin met die doel om leë plastiekbottels en bokse op te tel en te verkoop.

Cody skarrel nie rond om die leë bottels op te tel nie. Dié kannetjie het afsetpunte geskep waar hy sy leë bottels optel en verkoop.

Volgens sy ma, Brenda, het hy die idee gekry van druggies wat leë plastiekbottels optel en dan verkoop.

Brenda sê: “Hy het ’n paar vriende wat vir hom werk en hom help om die bottels op te tel.

“Hy’t laas jaar, voordat die skool in November gesluit het, leë plastiekbottels begin bymekaarmaak.

“Hy het sy familie en ons huisvriende gevra om hul leë plastiekbottels vir hom te hou. Een keer ’n week gaan tel hy die bottels by hul huise op en gaan verkoop dit.

“Soms as sy pa nie werk nie, neem sy pa hom om die plastiekbottels te gaan optel.

“Soms vra hy een of twee van sy maatjies om hom te help en dan betaal hy hulle.”

Cody vertel opgewonde: “Past. Charles George van die kerk in Eindhoven help ons om die leë bottels en blikkies te verkoop. Ek is die baas en my tjommies werk vir my.

“Ons tel die bottels op en spaar die geld.”

Past. George spog: “Ek was beslis baie beïndruk met Cody­ se sin vir besigheid.

“Hy het my gevra of ons kerk nie vir hom leë plastiekbottels het nie.

“Ek wou weet hoekom hy die leë bottels soek. Hy vertel toe hy het sy eie besigheid, Collectors, begin.

Steel

“Ek het toe besluit om hom te help en vir die afgelope maand tel ek die leë bottels op en ons gaan verkoop dit saam.

“Hy het eers die leë bottels by hul huis gehou, maar soms het die jongens dit kom steel. Nou hou ons die leë bottels in die kerk se skills centre. Ons sit die bottels in groot wit sakke.

“Ons het ook gevra dat die kerkmense en ons kerkvennote leë bottels kerk toe moet bring.

“As dit te veel is, gaan haal ons dit met die bakkie by hul huise.

Hy voeg by: “Ons sorg dat hy elke week ’n groot wit sak vol leë bottels het wat ons verkoop en die geld vir hom spaar.”

Die gemeenskap ondersteun die jong mannetjie goed en waar ander kinders van sy ouderdom speletjies aanleer, doen hy reeds sakevernuf op.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters