6 maande gelede
Jonges nou touwys
groen: Dié groep kinders maak seker die strand by Harmony Park is silwerskoon.Foto: IAN BAARD  ~ 

DIE Nuwe Apostoliese Kerk in die Strand het ’n puik vakansieprogram oor vyf dae in samewerking met die Wes-Kaapse regering aangebied.

Volgens Charles Abrahams, projekleier, is die projek al in sy vierde jaar.

So 70 kinders en jong volwassenes van 6 tot 21 jaar oud het dit bygewoon.

Hoewel die program by die Nuwe Apostoliese Kerk Strand-Suid aangebied is, het kinders van ander kerke en gelowe ook kom deelneem.

Abrahams sê programme oor die gevare van drugs, gesinsgeweld, misdaad en omgewingsake is aangebied.

Sprekers van die polisie en brandweer, asook kenners van selfverdediging, het met die jeugdiges kom gesels.

Die groep is ook geleer jou omgewing bepaal jou toekoms. Hulle het dus ingespring om die kusgebied skoon te maak en sakke vol plastiek en rommel opgetel.

Die week is afgesluit met ’n pretdag met speletjies en ’n modevertoning. Hiervoor moes die modelle hulle eie klere uit papier ontwerp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters