3 maande gelede
Jonges kry Kaap-toer
LEERSAAM: Kinders leer baie in die Joodse Museum.  ~ Foto Verskaf

TALLE kinders van Wellington is Dinsdag vir die eerste keer in hul lewe Kaapstad toe vir ’n uitstappie om kulturele diversiteit te ervaar.

Dit is deur die EduBiz Foundation en die Q.Rock en Dalene Foundations in samewerking met die SA Joodse Mu­seum gereël­.

Altesame 33 kinders van gr. 5 tot gr. 8 uit Vanwyksvlei en Weltevrede in Wellington het saam met 12 volwassenes ’n bus Kaap toe gevat.

Visie

Razak Fillander, tesourier van die EduBiz Foundation, sê geskiedenis is gemaak en ’n droom het waar geword.

“Die EduBiz Founda­tion is besig om ’n geleentheid vir arm kinders te gee. Vandag het ons dié visie laat waar word.”

Die direkteur van EduBiz, Zaida Julius, sê die kinders was baie opgewonde toe hulle in Kaapstad aankom.

“Hulle is skoon oorweldig toe hulle die hawe, geboue en die mooi uitsig sien.

“Die meeste van die kinders het nog net die Moederstad in hul skoolboeke gesien.”

Die groep is deur die SA Jewish Museum verwelkom en het die diverse kulturele program baie geniet. Hulle het meer oor verskillende godsdienste, bevooroordeeldheid, diskriminasie, xenofobie, boelie en godsdienstige en kulturele verdraagsaamheid geleer. Hulle het ook die Kompanjiestuin besoek.

Dalene van die Dalene Foundation sê dankie aan die Q.Rock en EduBiz Foundation, wat die bus-trip moontlik gemaak het.

“Ook die Jewish Museum wat dit moontlik gemaak het dat ek Wellington se kinders kon bring om te besef wat die reli­gion is en dat hulle dit kon geniet het. Dit was nie net ’n uitstappie nie. Dit was ook skoolwerk.”

Die sanger Q.Rock van die Q.Rock Foundation sê hy hoop daar is nog baie sulke uitstappies.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters