26 dae gelede
Jonges blink uit
Veels geluk: Die Stad Kaapstad se mayco-lid belas met gemeenskapsdienste en gesondheid, Zahid Badroodien, oorhandig die wenner, Jade Wyngaardt, se tjek.  ~ 

DIE Kaap se toekoms is in goeie hande as ’n mens na die potensiaal van ons jeug kyk.

Die Stad Kaapstad in samewerking met verskeie sponsors het Dinsdagaand van die slimste entrepreneurs vergoed op vanjaar se #YouthStartCT-toekennings.

Die event is by die burgersentrum in die middestad gehou. Honderde jong entrepreneurs wat hulle eie besighede run, het vroeër vanjaar vir die kompetisie ingeskryf.

Die top-11 het Dinsdag se uitdeling bygewoon. Volgens die organiseerders word die waarde van dié besighede op tussen R3 miljoen en R5 miljoen geskat.

Die top-11 het verskillende soorte besighede – onder meer digitale dienste, konstruksie en werwingsagentskappe.

Zahid Bad­roodien, mayco-lid belas met gemeenskapsdienste en gesondheid in die Stad Kaapstad, het hulle aangemoedig om aan te hou as sakelui.

Hy het gesê: “Julle moet uit julle foute leer.

“Jy moet altyd onthou wat jou motivering is en wie jou aanmoedig. Dis daardie persoon of mense in die gemeenskap wat maak dat jy deur dinge kan gaan; mense wat jou inspirasie is.”

Jade Wyngaardt van Afriversity het met die wenprys van R50 000 weggestap.

Sy kry ook onder meer ’n tablet en data vir ’n jaar, opleiding in sakedienste en promosie-materiaal vir haar besigheid.

Wyngaardt (30) van Woodstock sê: “Ons verskaf online bemarkingsdienste aan klein besighede deur die gebruik van jong mense met digitale skills.

“Ek het geen tersiêre opleiding nie. Ek kom uit ’n gebroke huis (in Mitchells Plain) en die internet het basies my lewe gered.

Krag

“Daar was geen ander geleenthede rondom my nie, net die internet.

“Dis waar ek alles geleer het. Deur daai kennis het ek my geklee en gevoed. Nou bestuur ek die grootste geleentheid van my lewe.

“Dis my besigheid wat al uit ses werknemers bestaan. Ons sien uit daarna om van krag tot krag te groei.”

Nkululo Gugu is in die tweede plek. Mphindeleli Qalazive en Caleb Herold is gesamentlik derde.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters