Verlede maand
Jong vrou help jeug
MAAK 'N VERSKIL: Met haar stigting ploeg Danya Goosen terug in haar gemeenskap se jeug. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

SY IS hier om te luister en te help.

Vir Danya Goosen van Elsiesrivier is dit in haar bloed om jong mense te help waar sy kan.

Die 29-jarige vrou van Eureka Estate beoog om met haar organisasie sonder winsbejag na sowat 6 000 leerders van verskillende hoërskole uit te reik.

Bendes

“My ouers was die tipe mense wat alles in hul vermoë gedoen het om die volgende persoon te help waar hulle kon.

“My pa het sy eie besigheid gehad en het die jong mense wat dalk in bendes betrokke geraak of skool verlaat het, ’n geleentheid gegee om vir hom te werk. Dis hoe hy hulle uit daardie situasies gehou het.

“My ma was weer een wat altyd iets gereed gehad het om te eet. Sy’t altyd vir mense kospakkies gegee of ’n geldjie waar dit nodig was. So, ek kan sê charity het rêrig by die huis begin,” vertel sy.

Goosen het twee jaar gelede haar non-profit, die Lotus Street Foundation, saam met Marvin Levendal, haar sakevennoot, gestig en geregistreer.

“Ná baie jare­ van terugploeg in my en ander gemeenskappe het ons besluit dis tyd om ons founda­tion te registreer.

“En met dit kon ons soveel meer mense help,” vertel sy.

Goosen sê sy was self ’n tienerma. Sy ken kritiek en weet hoe dit voel as haar gemeenskap haar embrace.

“Ek het baie support gehad, maar ek weet daar is baie jong meisies wat sukkel en wat nie support het nie.

“Dis waarom dit so belangrik is om kontak te maak met jong kinders, na hulle te luister en om hulle te ondersteun,” sê sy.

Goosen en Levendal beoog nou om hul gesondheidsprogramme na meer skole te neem waar hulle met leerders oor gesondheid praat en veral fokus op Covid-19.

“In hierdie programme het ons gesondheidswerkers wat met die leerders gesels net soos wanneer die onderwerp van die gesprek oor geslagsgeweld gaan,” sê sy.

PASSIE: Danya Goosen sê sy doen wat haar oorlede ouers jare lank gedoen het deur te help waar sy kan. Foto: Jonathan Lestrade

Verder verskaf hulle kospakkies en sanitêre pakke aan die leerders wanneer daar donasies inkom.

Draai

“Ons praat ook met leerders oor hul toekomsplanne en wat hulle kan doen om dit te bereik.

“Ons weet nie almal het altyd iemand na wie hulle hul kan wend vir ondersteuning nie. So, gebruik dié geleentheid om hulle te laat weet hulle is nie alleen nie,” sê sy.

  • Mense wat die organisasie wil ondersteun, kan Goosen en Levendal gerus via WhatsApp kontak by 060 444 3597 of per e-pos: danya@lotusstreet.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters