Verlede maand
Hy help maak sy plek happy
KOM LEES: Jason de Vries met een van die talle boeke wat aan hom geskenk is vir sy biblioteek.  ~ Jonathan Lestrade

DIT was nodig dat hy sy trots in sy sak steek om weer in die gemeenskap te kon saai.

Jason de Vries (30) van Happy Valley naby Blackheath praat vanuit sy huis wat hy in ’n biblioteek vir kinders in die omgewing omskep het.

De Vries, wat vir ’n gedeelte van sy lewe ’n hawelose seun was, het verduidelik dat sy stryd hom geleer het dat jy altyd genoeg sal hê om terug te gee en steeds vir jouself te hê.

Hy het verlede jaar in die klipharde lockdown Facebook ingespan toe hy self sy werk verloor en nie kos op die tafel kon sit nie.

“Ek het basies in die sosiale media vir kos gebedel. Toe stuur ’n anonieme man vir my ’n boodskap en sê hy gaan vir my R10 000 stuur om kos vir die maand te koop.”

De Vries het egter nie net vir sy familie gesorg nie, maar ook kospakkies vir die gemeenskap bymekaargemaak.

Dit is tóé dat alles verander het.

De Vries sê toe die geld op was, het hy weer op Facebook om hulp gevra. Hy het weer aan die weldoener ’n boodskap gestuur.

“Ek het verduidelik waarvoor ek die geld gebruik het.

“Die skenker, nou bekend as Rodney Michaels, het toe altesaam tot R100 000 geskenk om die gemeenskap van Happy Valley te help.”

De Vries sê hy het op sy knieë gegaan om God te vra wat die gemeenskap die nodigste het.

Gelag

“Dis toe dat ek die biblioteek by my huis begin het, want die kinders het met hul tuiswerk hiernatoe gekom wanneer hulle kos kom haal.

“So, watter beter manier om die ruimte te gebruik as nie net ’n plek om kos in hul maag kry nie, maar ook kos vir hul brein?”

Terwyl Son by die huis was, kon die gelag van kinders van buite gehoor word.

KENNIS: Jason de Vries gebruik sy biblioteek as ’n plek waar kinders hul tuiswerk kan doen, maar ook waar hulle kan leer lees. Foto: Jonathan Lestrade

De Vries sê dit het al die normale deuntjie buite geword.

“Ek sien meer glimlagte, ek hoor meer gelag.

“Dit het die kinders bymekaar gebring. Hulle toon nou meer belangstelling in hul skoolwerk en hou van leer.”

De Vries noem dat hy daagliks meer as 400 mense in die gemeenskap voed en dat sy deure 24/7 vir kinders oop is.

“Ek wil net vir Rodney dankie sê. Al ken die kinders hom nie, is hulle lief vir hom en hulle ken sy naam.

“Dis alles te danke aan die Here en ook hoe ek grootgeword het, want as ’n hawelose kind het ek altyd geweet die Here gaan my laat skyn.”

Michaels, wat tans in die Verenigde Arabiese Emirate is, sê De Vries se groot hart is iets wat hom ook motiveer.

Geweet

“Dis God se werk, want toe ek die post gesien het, het ek net geweet dié is iemand wat ek moet help.

“Daar is niks verkeerd met vra nie en ek sal dit weer in ’n heartbeat doen om ons mense te help.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters