Verlede maand
Hiér kry jonges meer as net kos
GOEIE DOEL: Johnny Baartman van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum, Franzu Badenhorst (Famsa Karoo), Phillip Seroux, sy seun, Angelo, Susanna Seroux, pastoor Gillian Carolus (agter) en Richard en Jennetta Seroux.  ~ Garnett Wicomb

DIE vreugdevure het Saterdagaand in Polisiehoogte, Oudtshoorn, tot laat gebrand.

Dít was ná die amptelike opening van ’n sopkombuis en nasorgsentrum wat ’n inwoner van die buurt saam met sy gesin, rolspelers soos Famsa Karoo, en borge op hul erf opgerig het.

“Dis ’n droom wat waar geword het,” sê Phillip Seroux, wat saam met sy vrou, Susanna, die sopkombuis en sentrum bestuur.

Volgens Seroux het hulle in April vanjaar gereageer op ’n beroep wat op mense gedoen is om in dié tyd van Covid-19-inperking in hul gemeenskappe betrokke te raak deur ’n helpende hand uit te reik na diegene wat swaarkry.

“Ons het besluit om iets vir die kinders van die buurt te doen wie se ouers tydens die inperking nie gewerk het nie en ons het aanvanklik daagliks ’n sopkombuis vanuit ’n kerkgebou bedryf.”

Hulle het ná sowat ses maande besluit om borge te soek om ’n klein sentrum op hul erf te bou.

Die egpaar het ook die sopkombuis uitgebrei tot ’n nasorgsentrum om die kinders meer te gee as net iets om te eet.

Geniet

“Die Here het dit op my hart gelê en ek is dankbaar vir mense wat in my lewe gekom en mildelik bygedra het vir die verwesenliking van ons droom.

“Dit is vir my ’n riem onder die hart om vir kinders iets te gee om te eet en te sien hoe hulle dit geniet,” sê Phillip.

Volgens Franzu Badenhorst van Famsa Karoo sal hulle gereelde programme by die sentrum aanbied waar kinders geleer sal word van familiewaardes en verhoudings.

“Ons wil kinders ook aanspoor om hul drome na te streef en te sien realiseer,” sê Badenhorst.

Morné Pietersen, stasie­bestuurder van die gemeenskapsradiodiens Eden FM, sê die sopkombuis en nasorgsentrum is ’n saad wat in die gemeenskap van Polisiehoogte gesaai is.

“Hierdie is nie ’n gewone sopkombuis nie en ons kan nie hier ophou nie.

“Die kinders moet elke dag iets kry om te eet.”

Hy het die radiodiens daartoe verbind om die sentrum te ondersteun en ’n beroep op die gemeenskap en besighede gedoen om dieselfde te doen.

Skenkings

Seroux het ál die borge bedank vir hul bydrae tot die gemeenskap.

Die sentrum is van Maandag tot Vrydag vanaf 10:00 oop en Seroux kan vir enige skenkings geskakel word by 079 987 9486.90

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters