5 maande gelede
Helpende hande vanaf Shoprite
hartjies bly gemaak: Mother of Many se kids is gelukkig. FOTO VERSKAF  ~ 

MEER as 400 voorskoolse kinders van vier vroeëkinderontwikkelingsentrums in Worcester geniet voordeel uit ’n vennootskap met die Shoprite-groep wat voeding, onderwysersopleiding en strukturele opgraderings by die skole insluit.

Die groep is verbind tot die ondersteuning van begeesterde vroue regoor Suid-Afrika wat VKO’s bedryf.

Supermark

Heavenly Toddlers, Mother of Many, Khanyisa en Bollieland is gekies omdat die personeel van Shoprite en Checkers se kinders hulle bywoon.

Shoprite het onlangs begin fokus op die kleuterskole wat vir sy personeel se kinders sorg.

Charmaine Louw, ’n skoolhoof by een van die skole, is self ’n voormalige werknemer by ’n supermark.

Louw het haar verder bekwaam en toe Heavenly Toddlers in 2005 gestig.

Die crèche was eers in ’n sinkstruktuur wat aan haar huis in Avian Park geheg is.

Die eenvertrek-skooltjie het egter ál hoe meer vervalle geraak, maar Louw kon nie bekostig om haar skool toe te maak nie.

Die behoefte aan kindersorg in Avian Park is te groot.

Vandag, met ondersteuning van Shoprite, word Louw se kindertjies versorg in ’n splinternuwe gebou wat toegerus is met broodnodige opvoedkundige materiaal.

Die jong kinders word ook verseker van ’n daaglikse ete uit die Lunchbox-fonds, terwyl Louw en haar assistente op­leiding ontvang.

Die ander crèche is Mother of Many. Hier ontvang die kiddies ook hul daaglikse etes uit die Lunchbox-fonds, terwyl die skoolhoof, Ursula Williams, en haar assistente vir onderwys-­ en bestuursop­leiding ingeskryf is.

Khanyisa Educare Centre, ’n kleuterskool in Zweletemba aan die ander kant van Worcester, het ’n facelift gehad toe die gebou binne en buite geverf is en ’n pragtige muurskildery versier nou een van die mure.

Elke klaskamer is toegerus met kindervriendelike toilette en ’n “kos-tuin”.

By Bollieland, ’n crèche naby die middel van die dorp, sal onderwysersopleiding ook in die komende weke begin.

Shoprite se implementeringsvennoot, die Sentrum vir Kleinkindontwikkeling (CECD), het meer as 30 jaar ondervinding en is dus bekwaam om ondersteuning aan hierdie skole te bied.

“Onderwysers, sowel as bestuursopleiding is die kern van wat ons doen. Ons kontrakteer ook plaaslike bouers om die opknappings te doen en so terug te ploeg in die gemeenskappe wat ons ondersteun,” sê Rukea Shaik, woordvoerder van die CECD.

Omgee

Nomaphelo Gqamane, kassier by Shoprite in Zweletemba, is baie dankbaar vir die verbeterings by Khanyisa, waar haar tweejarige dogtertjie skoolgaan.

“Ek’s baie gelukkig oor die opgraderings,” vertel sy. “Dit wys dat Shoprite vir sy personeel omgee en ek wil graag sien dat meer werkgewers sulke dinge doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters