7 dae gelede
Helde pak nood
VOORSLAG: Sarah Kekana is een van die werkers wat ekstra gee.  ~ Foto Verskaf

’N KARONGELUK, ’n hartaanval of ’n gebreekte been.

Dis maar ’n paar van die dinge waarmee werkers van Netcare 911 elke dag moet werk en die corona-virus maak dinge boonop nog moeiliker vir noodreddingswerkers.

Maar daar is van daardie mense wat elke dag in moeilike omstandighede werk en mense in nood bystaan.

Sarah Kekana en Nicole Lester is noodreddingswerkers by Netcare 911.

Kekana werk by die Netcare Linmed-hospitaal en sê haar passie om met mense te werk, het in dié tyd verdiep.

“Ek het ’n instink om te help en die menslike interaksie maak dit net beter. Dit wys my die ware menslikheid wat bestaan. Dit maak my ook ’n ryker mens as gesondheidswerker.”

Aansterk

Volgens Kekana is dit nie altyd maklik as jy na pasiënte by hul huise gaan nie.

“Sommige gesinne wil inmeng as jy help. Sommige mense wil hê die persoon moet opgeneem word in ’n hospitaal terwyl dit nie nodig is nie. Die persoon kan aansterk by die huis.”

Sy sê hulle gaan deur moeilik tye op die oomblik en dit gebeur dat families so gestres is dat hulle die situasie net moeiliker maak.

Lester werk by die Netcare Sunninghill-hospitaal en het ook al net so baie moei­like situasies deurgemaak.

“Dit gebeur dat pasiënte en hul families met ons stry oor hoe om die regte behandeling toe te pas. Mense is weens die pandemie onder meer stres en dit is moeilik vir ons almal.

“Maar dit is ons werk om die beste besluite te neem vir elke pasiënt. Soms is dit nie nodig dat die persoon hospitaal toe hoef te gaan nie.”

Dankbaar

Die twee vroue – net soos hul kollegas – werk lang ekstra ure en hulle moet gedurig baie persoonlike opofferings maak.

Shalen Ramduth, Netcare 911 se bedryfsdirekteur, sê hy is dankbaar vir werkers soos Kekana en Lester en ander gesondheidswerkers wat voortgaan om die gemeenskap in hierdie moei­like tye te dien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters