20 dae gelede
Harde werk laat 2 uitstyg
LANGASEMS: Tayisha McCarthy (links) en Ivanay Visser is Hillcrest Primêr se eerste landloop-sterre. Hulle is in die metro- en OP-span opgeneem. Foto: theo jeptha  ~ 

ONDANKS lewensgevaarlike omstandighede in die bendegeteisterde Helenvale in die Baaise Northerns het die Primêre Skool Hillcrest die eerste keer landloop-uitblinkers opgelewer.

Ivanay Visser (12) van Chamoisstraat het die OP-span gehaal. Sy sê sy het eers in gr. 6 besluit om aan landloop deel te neem.

“Ek het eers hokkie gespeel en net besluit ek wil aan landloop deelneem. Ek is baie gelukkig dat ek die skool Saterdag in Port Alfred gaan represent en volgende week by die NMU.”

Ivanay sê sy het hard ge­oefen en is beloon met ’n plek in die OP-span wat op 8 September aan die nasionale kampioenskappe gaan deelneem.

Sy beplan om volgende jaar by die Hoërskool Andrew ook aan landloop deel te neem.

Tayisha McCarthy (14) van Fitchardtweg is tevrede dat sy die Nelson Mandelabaai-metro-span gehaal het.

Die span gaan Saterdag aan die Oos-Kaapse skole-kampioenskappe in Port Alfred deelneem.

“Ek het in gr. 3 begin hardloop en oefen elke dag om fiks te bly.

“Die raad wat ons kry, is om niks te eet of te drink voor ons hardloop nie. En om ná alles ’n bietjie rond te stap om nie te moeg te wees nie.”

Tayisha voeg by dit gaan nie alles eindig wanneer sy aan die einde van die jaar gr. 7 gaan voltooi nie.

Sy gaan by die Hoërskool Chapman ook aan landloop deelneem.

Vivian Raubenheimer, die landloop-onderwyser, sê om in Helenvale te oefen, is gevaarlik, omdat niemand weet wanneer daar geskiet gaan word nie.

“Die Here is getrou en deur die onveiligheid ken Hy ons en die kinders se harte.

“Ons kom soms 05:30 op ’n Saterdagoggend om hulle vir ’n wedloop te kom haal en niks het nog met ons gebeur nie.

“Ek en die hoof, Cyril Uithaler, kom sonder om bang te wees na die gebied, want ons doen dit vir die kinders. En in Helenvale is daar nie negatiewe dinge wat gebeur nie.”

Raubenheimer voeg by dat sy ook dankbaar is vir die buddy-groep, onder leiding van Ashley Kock, wat Tayi­sha, Ivanay en ander landloop-leerders by die Gelvandale-atletiekbaan afrig.

“Hulle word selfvertroue en dissipline geleer.

“Daar word by hulle ingeskerp dat jy van niks iets kan maak.

“Die twee is ’n inspirasie vir die ander lede van die span, wat ook OP-kleure wil dra.

“Hulle hoef nie bang te wees om teen leerlinge van Grey en Framesby, met hulle persoonlike afrigters, mee te ding nie.”

Raubenheimer sê sy haal haar hoed af vir Uithaler omdat hy sy tyd ná skool en Saterdagoggende opoffer om die landloopspan te help oefen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters