10 dae gelede
Groep gee kennis én praktiese hulp
DOEN GOED: Elbre Jacobs, stigter van die organisasie.  ~ Foto Verskaf

OM IDENTITEIT aan die gemeenskap terug te gee is baie belangrik.

Só voel Step Up Associa­tion oor die werk wat hy in gemeenskappe doen.

Dit is ook een van die belangrikste bene van dié organisasie sonder winsbejag (NPO). Die organisasie is begin om gratis regsadvies te gee aan diegene wat dit nie kan bekostig nie.

Step Up Associa­tion help mense wat nog nooit ’n geboortesertifikaat of identiteitsdokument besit het nie om dit te kry. Die organisasie gaan die hele proses saam met hulle deur en gee hulle selfs vervoergeld.

Benewens hierdie twee belangrike take, is Step Up Associa­tion voortdurend met allerhande projekte in die gemeenskappe besig.

Onder hierdie projekte is sopkombuise en Back2School, waar kinders gehelp word om in die skoolbanke te kom.

Elbre Jacobs sê hy het Step Up Associa­tion in 2011 gestig nadat hy deur ’n afleggingsproses gegaan het sonder dat hy enige kennis van die arbeidswetgewing gehad het.

Dit is toe dat Jacobs besef het hoeveel ander mense dieselfde deurmaak en hulself benadeel omdat hulle nie regtig weet wat hul regte is nie.

Die groep bied ook gratis werksessies aan om mense in te lig oor die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Step Up Associa­tion het reeds kantore in Kayamandi en in Happy Valley naby Blackheath en is nou besig om ’n kantoor in Eersterivier te vestig.

Die organisasie se grootste rugsteun is die Social Change Assistance Trust, sowel as die StepUp Ministry in Happy Valley.

Jacobs sê hulle sukkel maar soos enige ander NPO met befondsing, maar dit keer hulle nie om mense te help nie.

“Daar is kinders van nege jaar oud en soms ouer wat weens omstandighede nog nooit in ’n skool was nie, maar meestal omdat die ouer of die kind nie ’n ID of selfs ID-nommer het nie. Ons maak dan werk daarvan om die kind te help om in ’n skool kom en ’n geboortepapier of ID-nommer te kry.”

KENNIS: Inwoners luister vroeër die jaar aandagtig na wat gesê word by ’n werksessie oor die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Foto: Verskaf

Volgens Jacobs is die geboue wat hulle vir hul projekte gebruik staatseiendom wat hulle self regmaak.

“Ons kan nie meer op die regering wag vir hulp nie. “Ons doen alles self en vra die gemeenskap om hande te vat en te help. Sodoende sit ons ook die trots terug in die gemeenskap.”

Kontak

Hul kantore in Kayamandi en Happey Valley is Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 15:00 oop.

Enige een wat in kontak wil kom, kan Jacobs skakel by 078 075 6260.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters