14 dae gelede
Groentetuin is sy trots
PRET: John Ely geniet die nuwe stokperdjie.  ~ Jonathan Lestrade

HY HET nooit geweet hy het groen vingers nie – totdat hy sy eie groente begin plant het.

Nou eet almal lekker uit sy tuin.

Vir John Ely (60) van Tafelsig in Mitchells Plain is dit die moeite werd om elke oggend sy plante nat te maak en ’n bietjie met hulle te gesels, want hy weet dit help om die magies vol te hou.

“Ek is nou so verlief op dié groentetuin van my oor dit nie net vir my gesin kos op die tafel verskaf nie, maar ek kan vir ander ook help wat sukkel om iets op hul tafel te kry,” sê Ely.

Hy is een van sowat 40 inwoners wat vier maande gelede ’n ontvanger was van die Garden in the Box-projek, wat mense help om selfonderhoudend te word.

“Toe ek die boks gekry het, het ek sommer onmiddellik voortgegaan om die sade te plant.

“Dit was iets wat ek nooit tevore gedoen het nie, maar ek het dit sonder twyfel aangepak en ons oes nou uit die tuin.

“Van die mense in my gemeenskap vind ook nou baat by die projek deurdat ek vir hulle gee wat hulle benodig wanneer hulle kom vra.

“Ek het nou groen vingers, wat ek nooit geweet ek het nie.

“Ek het nou ’n groot passie vir groente kweek en ek sal nie ophou nie,” vertel Ely.

Kennis

Hy sê hy wil graag ’n besigheid begin met sy groentetuin en is bereid om meer opleiding te kry.

“Ek stel baie belang in farming.

“Ek dra nie so baie kennis van die verskillende plante nie, maar ek wil graag meer leer sodat ek ’n verskil in ander se lewens kan maak.”

As so ’n geleentheid beskikbaar is, sê Ely, sal hy in die toekoms sy kennis oordra aan ander wat belangstel.

“Tot dan sal ek mooi na my groente kyk en enige iemand wat dit benodig, is meer as welkom om te kom vra.

“Ek deel graag,” sê hy met ’n groot smile.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters