11 dae gelede
Gift of the Givers is bedrywig
IN GOEIE HANDE: Dié pasiënt vind baat by Gift of the Givers se bydrae.  ~ Gift of the Givers

DIE eerste pasiënte het Maandag ingeboek by ’n saal in die Mitchells Plain-hospitaal wat deur Gift of the Givers opgeknap is.

Die Gift of the Givers se Freesia Ward is onlangs teen R10 miljoen opgeknap.

Volgens die stigter en voorsitter van Gift of the Givers, dr. Imtiaz Sooliman, kan 60 beddens in dié saal pas wat hoofsaaklik vir Covid-19-pasiënte bedoel is.

Operasies en verskeie ander soorte behandeling kan egter daarin gedoen word.

Sooliman sê: “Die saal kan ook help as ’n tweede vlaag corona-virus-besmetting uitbreek, maar ons hoop nie dit gebeur nie.”

Sooliman sê beddens, suurstofpunte en -masjiene en ander toerusting is geïnstalleer en 57 verpleegpersponeellede is op hul pos.

Brand

Hy sê: “Pasiënte sal stadig ingebring word soos wat die uitdagings kop uitsteek.”

Volgens hom sal die saal help dat ander mediese behandeling wat nie gebied kon word toe die pandemie uitgebreek het nie, nou wel daar aangebied kan word.

Die stigting het pas in Imizamo Yethu in Houtbaai gehelp nadat ’n brand die naweek daar uitgebreek het.

Gift of the Givers het ook Vrydag in Rawsonville kospakkies aan bejaardes, gestremdes en kinderhuise geskenk.

Dit volg nadat maatskaplike werkers die polisie en klinieke vir hulp gevra het.

Die organisasie is besig om ook in die Bhisho-hospitaal in die Oos-Kaap ’n nuwe Covid-19 fasiliteit gereed te kry. Dit sal beddens vir 120 pasiënte hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters