27 dae gelede
Gesin gee terug
Hartseer: Waseema Gezwint se babatjie is op nege maande doodgebore.  ~ Verskaf

TERWYL almal hul beste probeer om self die pandemie te oorleef, is daar steeds mense wat die behoefte het om in hierdie aaklige tyd na ander uit te reik.

Ons hoor daagliks hoe duisende mense aan die dodelike corona-virus sterf, maar vergeet van ander natuurlike oorsake.

’n Gesin van Cloetesville wil graag deur ’n projek uitreik na mammies wat die pyn van ’n doodgebore baba ervaar.

Die ma en haar twee dogters wil pakkies aan mammies in die Tygerberg-hospitaal gee om hulle te help.

Hajiera Arnolds vertel die idee het begin vier maande nadat haar dogter Waseema Gezwint haar baba ná nege maande van swangerskap verloor het.

Arnolds vertel dat in Augustus, enkele dae voordat haar dogter se bevalling moes gebeur, het haar baba opgehou skop.

“Ek het haar Tygerberg-hospitaal toe gevat, waar sy vir ’n week gelê het.”

“Die dokter het gesê die baba het nie meer ’n hartklop nie,” vertel Arnolds.

Gezwint sê aan Son sy was baie hartseer, want dit was so skielik.

“Ek het goeie behandeling gekry by die hospitaal en toe ek die ander mammies sien wat ook daar is, het ek nie so alleen gevoel nie.

“Ek het toe gesien hoe baie van die mammies sukkel met basiese benodigdhede en dat hulle hulp benodig.”

Arnolds vertel twee weke gelede het Waseema na haar toe gekom en gesê sy is gereed.

“Sy het my toe vertel wat sy by die hospitaal gesien het en dat sy wil terugploeg omdat sy sulke goeie diens van die hospitaalpersoneel gekry het,” laat hoor Arnolds.

Volgens haar is daar baie mammies wat deur dieselfde pyn gaan en baie van hulle kom van so ver as Mosselbaai en Oudtshoorn.

“Hulle het nie familie naby nie en kry nie die basiese benodigdhede nie,” sê Arnolds.

Sy en haar jongste is welbekend vir die gemeenskapswerk wat hulle in die Stellenbosch-omgewing doen.

Hul doel is om teen einde Maart 120 versorgingspakkies aan die mammies by die Tygerberg-hospitaal te gee.

Arnolds sê 60 pakkies sal aan die mammies met doodgebore babas gaan en 60 aan die mammies wat hul babatjies huis toe vat.

Volgens die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is 1 858 babas laas jaar doodgebore. In die afgelope vyf jaar was daar 8 653 sulke gevalle.

Hulp

Mark van der Heever, woordvoerder vir die departement, sê hospitale het stelsels in plek om sulke donasies te aanvaar.

Arnolds sê sy weet dis ’n moeilike tyd vir baie, maar sy vra ander se hulp om hulle met die projek te ondersteun.

Diegene wat wil skenkings maak, kan haar kontak by 073 210 6693.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters