24 dae gelede
FB-blad gee stem aan elk
BAANBREKERS: Jessica Davids (links), Lemuel Boesak en Sharefa Hoogbaard doen uitmuntende werk in hul gemeenskap.  ~ Foto Verskaf

“ONS wil graag net daai kleindorpie-mentaliteit afbreek dat jy net ’n gesiene mens in die dorp moet wees om erken of waardeer te word.”

So sê die sanger Lemuel Boesak oor sy Facebook-blad “Unspoken – Our Stories”.

Boesak is van die dorpie Slangrivier net buite Heidelberg in die Kaap.

So vyf maande gelede het hy en nog twee inwoners, Sharefa Hoogbaard en Jessica Davids, die blad begin om erkenning te gee aan inwoners wat ’n verskil in die gemeenskap maak.

Die blad het al byna 800 likes. Hul slogan is: “You are never too old to set another goal or to dream a new dream.”

“Ons al drie kom uit verskillende agtergronde en herkoms, maar ons deel dieselfde visie om alles wat ons aanpak, klaar te maak,” vertel Boesak verder.

“Ons het die blad begin met slegs ’n pen, papier en selfoon, wat ’n bewys is dat enigiets moontlik is as jy net die wil het om dit te laat werk en ’n sukses daarvan te maak.

“Ons het baie lewensfoute gemaak en daaruit geleer. Dít is presies wat ons aangemoedig het om die blad te begin.

“Ons glo dit is nooit te laat om iets vrugbaars na vore te bring nie.”

Die drie voer onderhoude met inwoners en sake­eienaars wat ’n verskil in die gemeenskap maak en plaas die artikels met ’n kiekie of twee op die blad en gee dan erkenning aan hulle.

“Hier is so baie mense wat nie erkenning kry vir wat hulle hier beteken nie omdat hulle tot ’n laer sosiale klas behoort. Nou kan ons groep dít aan hulle gee.

“Ons doel is om vir die mense te wys dat almal eer verdien, ongeag hul omstandighede.

“Ons is dankbaar vir almal wat ons sover ondersteun en aangemoedig het. Ons glo dat ons met die hulp van ons Hemelse Vader ’n verskil in ons gemeenskap kan maak.

“Al kan ons net één mens inspireer om nooit moed op te gee nie, dan is dit klaar goed genoeg.

“Ons wil afsluit met dié boodskap: Gister is verby. Maak nie saak hoeveel foute jy gister gemaak het nie, vandag is ’n nuwe dag om beter keuses te maak en te belê in jou toekoms.”

Gaan like gerus hul Facebook-blad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters