22 dae gelede
Fashion dié jong vrou se passion
TALENT: Met naald en gare in die hand kan Amy-Lee Smith ’n hele nuwe outfit skep.  ~ Astrid Februarie

AS JY nie kan bekostig om dit te koop nie, dan maak jy dit sommer self.

Dít is presies wat Amy-Lee Smith van Bonteheuwel doen.

Die 19-jarige kan nou wel nog nie haar designs so lekker skets nie, maar hierdie jong vrou kan sommer gou-gou ’n rokkie of broek aanmekaarstik.

Dis Smith se begeerte om ’n designer te wees omdat sy so ’n groot passie het vir fashion en klere maak.

Haar passie het groter geraak nadat sy in 2019 ’n jeugkafee bygewoon het waar sy tussen fotografie, fashion design en vele ander klasse kon kies.

“Ek het besluit om die fashion design-klas te doen en dis waar die gogga gebyt het.

“Ek geniet dit baie om die klere te maak omdat ek klere kan maak wat ek nie noodwendig in die winkels sien nie of omdat dit nie in my budget is nie,” sê sy.

Smith sê sy maak haar eie klere omdat sy nie uit ’n huis kom waar sy net kry wat sy wil hê nie.

Omgewing

“Ek het deur die hele proses van klere maak besef ek kan enige iets doen.

“Ek kan nie toelaat dat my omgewing of omstandighede vir my besluit nie.

“Ek het dalk nie al die materiaal of ’n naaimasjien om aldag klere te maak nie, maar ek probeer my beste om my passie uit te leef,” sê sy.

PASSIE VIR FASHION: Dinica Hendricks (links) dra ’n rok wat Smith gemaak het. Die 14-jarige Juraide Baartman (regs) dra ook ’n design wat Amy-Lee aanmekaargesit het. Foto: Astrid Februarie

Smith voeg by sy wil ander jong mense aanmoedig om te doen waarvoor hulle lief is.

“Moenie worry oor wat die volgende persoon gaan dink nie. Probeer dit en maak daarmee ’n verskil in jou eie lewe en ander s’n.”

Smith sê die ondersteuning van haar familie is ook baie belangrik.

“My ma help my wanneer ek sukkel en ek waardeer die ondersteuning wat ek kry. Dit motiveer my om aan te hou.”

As enige iemand Amy-Lee Smith graag met materiaal wil help sodat sy haar passie kan uitleef of dalk ’n naaimasjien kan skenk, kan hulle haar ma, Jolene, by 073 946 8789 kontak.

SÓ MAAK SY: Die voornemende ontwerper maak seker die rok sit mooi aan haar 20-jarige vriendin. Foto: Astrid Februarie

    Meer Stories

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters