12 dae gelede
Enkelma probeer ander help
ROLMODEL: Abygail Human en haar driejarige seuntjie, Noah.  ~ Leon Bonthuys

SY IS ’n jong enkelma wat ander enkelmammies wil help.

Abygail Human (23) van Delft het in gr. 11 swanger geraak en was baie down oor wat gebeur het. Sy sê sy wou later selfs moed opgee.

Die pragtige jong mammie het opgestaan en werk vandag by Checkers in Durbanville.

Sy het in die sosiale media begin praat oor enkelma’s en baie van die mammies het haar gekontak om hulle ook te motiveer.

Sy’t besluit om haar Teenage Moms Care-program te begin om hulle moed in te praat en te wys hoe om ’n enkelmammie te wees.

Sy wil hulle ook probeer opbeur en laat verstaan dit is nie die einde van die wêreld nie.

“Ek het ook gedink aan klein goedjies wat ek vir hulle kan gee om hulle by te staan – juis omdat ek ook so ’n storie gehad het.”

Nadat sy swanger geraak het, was sy maar by die huis en sy het niemand gehad om na die kind te kyk nie omdat haar ma ook gewerk het.

Sy kon ook nie aandskool bywoon nie, want die aandskool was ver en sy het nie vervoer gehad nie.

Weens haar omstandighede kon sy dus nie skool klaarmaak nie.

Sy was twee jaar by die huis en het daarna eers werk gekry.

Terwyl sy op skool was, het sy modelling ontdek en het reeds ’n klomp shoots gehad en ook in musiekvideo’s opgetree.

Boodskap

Maar sy het nie moed opgegee nie en doen vandag weer modelwerk.

Sy het ook as ’n skoolmeisie in Netflix se TV-reeks Blood & Water verskyn.

“Ek het ná my swangerskap gesê ek moet opstaan en ’n beter lewe vir my kind probeer kry.

Human se boodskap aan enkelmammies is om nooit moed op te gee nie en vorentoe te kyk.

“Wees sterk en moenie opgee nie. Jy kan nie moed opgee net omdat jy ’n kind het nie.

“Kyk op na jou moeder, waar sy vandaan kom en hoe sy dit deur die lewe gemaak het.

“Moenie opgee nie. Sit jou kind in ’n crèche en kyk vorentoe. Dinge sal aan die einde van die dag vir ons uitwerk.”

  • Sonlanders wat Abygail kan help om die Teenage Moms Care-program ’n hupstoot te gee, kan haar by abygailhuman01@gmail. com mail.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters