2 maande gelede
Engel kry award
GEËERD: Isabel Bailey sê haar gemeenskap lê haar na aan die hart.  ~ Peter Abrahams

GRABOUW se eie Moeder Teresa is met ’n toekenning vereer uit erkentlikheid vir haar jare van harde werk in die gemeenskap.

Wanneer jy honger, siek en moedeloos voel en niemand is vir jou daar nie, kan jy maar weet – Isabel Bailey se deur staan altyd vir jou oop.

Bailey besoek selfs plattelandse dorpies saam met ’n groep voormalige bandiete wat hulself die Taakmag van God noem om die jeug te inspireer.

Toe Rehard Smith, hoof van St. Michaels Primêr, agterkom watter goeie werk Bailey in die gemeenskap doen, het hy besluit om haar te verras.

Volgens Bailey het Smith haar gevra om ’n geselligheid by die skool by te woon en sy het glad nie geweet sy gaan vereer word nie.

Blydskap

Sy bars uit in trane terwyl sy aan daardie wonderlike dag terugdink.

Bailey vertel: “Hy het my gekontak en gesê hy het blydskap in sy hart om op Facebook te sien hoe besig ek in die gemeenskap is.

“Hy het gevra of ek al daarvoor erkenning gekry het.

“Ek het vir hom gesê ek doen dit nie vir geld nie. Ek wil net erkenning hê van die gemeenskap.

“Hulle moet kan sien wat ek doen. God sien wat ek doen, maar mense moet ook kan sien.

“Die hoof het gesê hy bewonder my omdat ek nie skaam is om op Facebook kos te loaf nie.

“Ek gaan staan by winkels en loaf kos vir die brandslagoffers.”

Bailey sê dié erkenning is die beste ding wat al ooit met haar gebeur het.

’n Aangedane Bailey sê dit beteken vir haar so baie. “My toerspan, die Taakmag van God, is vir die jeug daar sodat hulle nie by bendes betrokke raak en in dwelms verval nie.

Gesig

“Dis vir my ’n groot eer om te sien hoe mal die kinders oor my is.

“As hulle in my gesig kyk, kyk hulle in hoop vas.

“As hulle honger is of daar is probleme by die huis, kyk hulle in my gesig vas, want ek is daar om hulle te help.

“Hulle kan na my toe hardloop.”

Volgens Bailey ondersteun Smith en sy personeel haar sopkombuis. Sy sê as almal hande vat, sal die wêreld ’n beter plek wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters