Verlede maand
Eks-bandiete maak jeug wys
LOS DIT: Isabel Bailey sê hulle wil gangsterism in die gemeenskap uitroei.  ~ Foto Verskaf

MET bendegeweld in Grabouw aan die toeneem het ’n polisiebeampte, gemeenskapsleier en ’n spul eks-bandiete hande gevat om ’n stop daaraan te sit.

Met gangsters van so jonk as 10 jaar oud het hulle besef hulle moet dringend iets doen, sê die gemeenskapsleier Isabel Bailey.

Volgens Bailey het sy en kol. Elizabeth Swartland met die hulp van Swartland se pa, biskop David de Koker, die eks-bandiete Sondagmiddag na die gemeenskap gebring.

Dié oud-gevangenes is nou lede van die “Taakmag van God” en het die Ex-Prisoner Ministries begin.

Van hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en het gedink hulle sal nooit weer die buitewêreld sien nie.

Hulle het die gemeenskap meegedeel hulle was ook so erg verslaaf aan drugs dat hulle al eintlik dood moes gewees het.

Die groep se roeping is om lewens te red. Dit blyk hulle is op die regte spoor nadat twee lede van die Rebels-bende in die diens opgestaan het.

Die twee jong manne het voor die hele gemeenskap verklaar hulle wil nie meer lede van die gang wees nie.

Elizabeth het die gemeenskap meegedeel dit was nodig om die eks-bandiete na Grabouw te bring oor hulle baie uitdagings in die gebied het.

Met 30 jaar diens in die polisie het sy al gewerk by al wat ’n polisiestasie is, maar sy sê die Here­ het haar teruggebring na haar tuisdorp,Grabouw.

TAAKMAG VAN GOD: Die oud-bandiete kom in hul uniforms om jonges op die straight en narrow te hou. Foto: Verskaf

Haar woorde aan die mense was dat sy die gemeenskap stap vir stap beter wil maak.

Swartland sê: “Julle weet van die probleme wat ons in die area ervaar. Veral in die Beverley Hills-area.

“Ná 30 jaar het die Here my weer in Grabouw geplaas.

“My deur staan oop vir julle by die polisiestasie sou julle my nodig het.”

Sy sê aan Son hulle het die geleentheid gereël omdat hulle vir hul mense omgee. Sy sê daar is te veel jongelinge in hul woonbuurt wat by bendes betrokke is.

Bailey sê: “Ons wil ’n stop sit aan hierdie dinge.

“Met die hulp van ons gemeenskapsleiers, manne en vroue in blou en ons buurtwag is dit alles moontlik.

Saamstaan

“Ons as die gemeenskap van Grabouw moet een ding onthou: As ons saamstaan, kan ons bendegeweld stop.

“Julle kinders wat by gangsters betrokke is, draai jou rug op dit.

“Wanneer julle ’n probleem het, kom na antie Isabel se huis toe.

“Julle het nie nodig om jul lewe so weg te gooi nie.”

Bailey bedryf ook daagliks ’n sopkombuis uit haar huis om gemeenskapslede se mae te vul.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters