3 maande gelede
‘Ek wil myself bewys’
Wil help: Ainsley se droom is om naam te maak en dit dan weer te gebruik om terug aan sy gemeenskap te gee.  ~ Jonathan Lestrade

HY’T die geleentheid van sy lewe gekry.

Maar nou makeer hy hulp en so gou moontlik.

Die droom van Ainsley Pypers (15) van Elsiesrivier is om eendag aan sy gemeenskap terug te gee, al het dié tiener tans nie te veel van sy eie nie.

Potensiaal

Met ’n groot smile vertel die sokkerspeler dat hy vir sy span gekies is om in Junie aan ’n sokkertoernooi in Portugal deel te neem.

Pypers, ’n goalie vir die sokkerspan Vasco da Gama, sê dat dié geleentheid vir hom meer as net ’n toernooi beteken. Hy vertel dat dit ’n deur is wat meer deure oopmaak.

“Soos Cristiano Ronaldo gesê het: Om die beste te wees, beteken dat jy in verskillende lande en kampioenskappe jou kan bewys.

“Dit is my tyd om te wys dat ek die beste kan wees, maar ook om terug te kom sodat ek my gemeenskap kan motiveer.”

Ronel Pypers, Ainsley se mammie, vertel dat haar seun nog so jonk is, maar hy kry dit reg om haar te inspireer.

Dié enkelma sê sy is baie trots op haar seun en wil nie hê dat hulle finansiële probleme hom van sy toekoms moet weghou nie.

“My kind, my seun, hy veg om iets van sy lewe te maak. “Omdat ek alleen werk en tans op siekverlof vir ’n operasie is, kan ek nie R40 000 by myself bymekaar maak nie. Ek vra die hulp van ons mense, asseblief.”

Sy sê wat haar hart trotser maak, is dat haar seun die voorbeeld van die potensiaal is.

“Ek wil hê die wêreld moet sien wat uit Elsiesrivier kan kom. Hier is goeie potensiaal – nie net gangsters en druggies nie.”

Sy voeg by dat soveel lelike dinge aan die gemeenskap gekoppel word wat net moord en geweld inhou en hier is haar kind, ’n toonbeeld van energie, lewenslus, talent en potensiaal. Dit wil sy nie vermors sien nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters