13 dae gelede
Eetbare straws wen groot
Leila Siljeur
Maties-student wen groot met eetbare straws  ~ Verskaf

'N SEESKILPAD met 'n plastiekvurk in die neus is wat dit gevat het vir 'n jongmeisie om innoverend te wees.

Leila Siljeur (19) was so geraak dat sy gevoel het sy moet dadelik iets doen om plastiekbesoedeling te help bekamp.

Die Maties-student het toe besluit om eetbare- en omgewingsvriendelike straws te ontwerp.

Die slim idee het Leila se bankbalans, na die onlangse Allan Gray Orbis-stigting se nasionale jamboree, met R50,000 opgestoot.

Leila het haar handelsnaam, Eat Me Straws, laat registreer en vandag is daar drie soorte: gewone, gesonde en streng vegetaries of vegan straws.

Die voordeel aan die straws is dat dit nie pap word wanneer dit vloeistof raak nie. Boonop glo Leila dit is 'n verbetering op wat reeds met eetbare straws gedoen is.

Sy noem: “Hoewel maatskappye bioafbreekbare straws vervaardig, beland baie daarvan nogsteeds in die see, wat ‘n gevaar vir ons seelewe inhou.”

Leila vertel aan die begin van die ontwerpproses het sy met verskillende bindings-, emulgeer- en glaseermiddels gespeel. Dit was oor sy nie taai straws wou hê nie.

Nog minder wou sy iets hê wat die smaak van die verbruiker se drankie gaan verander.

Die tekstuur van die straws is 'n mengsel tussen liquorice en gedroogde vrugte.

“Die straws kan volgens 'n kliënt se voorkeur gekleur en gegeur word.

"Daar word verskillende basisse vir die straws gebruik. Soos gelatine vir die gewone, plant vir die streng vegans en vrugte vir die gesondes."

Indien jy wonder wat is die gewildste, dit is die streng vegans se bessiegeur.

Leila noem daar is selfs 'n framboos- en sjokolade-gegeurde straw.

Die straws word al sedert verlede op die Stellenbosch kampus in klein hoeveelhede aan studente verkoop.

Leila se plan nou is om haar produksie te verhoor en aan besighede plaaslik en die res van die land 'n verskaffer te wees.

"Die ideaal is om aan groot kitskoswinkels en gesondheidswinkels 'n verskaffer te wees."

En wat van die prysgeld?

"Dit kom handig te pas, veral met die doelwit om uit te brei nou."

Eetbare straws moet beslis lekker proe om R50,000 te kan wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters