Verlede maand
Duo help ma's wat treur ná moorde
VAT VOOR: Myrtle Philander (links) en Joshlyn Williams is die twee vroue agter alles.  ~ Foto Verskaf

AS TWEE vroue koppe bymekaarsit en hul kragte saamspan om die vroue in hul gemeenskap op te lig, kan net goed daarvan kom.

En dís presies wat Myrtle Philander en Joshlyn Williams vir die bedroefde ouers van Scottsdene in Kraaifontein doen.

Met jong seuns wat die afgelope maand elke dag hier afgemaai word, het die twee mammas besef hulle het ’n groot taak op hande.

Philander het aan Son vertel dat sy die laaste ruk werk met ouers wie se kinders doodgeskiet is.

Sy sou elke keer die kransleggings doen nadat ’n ouer se seun doodgeskiet is, sê sy.

Philander vertel: “Ons het die ouers begin oornooi en saam met hulle gebid.

“Ons besef ons het ’n groot taak, want ons wil die mammas oplig en help uit hul ellende.

“Elke dag word van die ouers se kinders doodgeskiet en hier is nie ’n fondasie waarop hulle kan staan nie.”

Philander en Williams het Sondag ’n lekker koek-en-tee-middag vir die bedroefde ouers gereël sodat hulle ’n breek van al die hartseer kan neem, sê hulle.

Duran Visagie (11) se ouma het ook die geleentheid bygewoon. ’n Dwaalkoeël het die jong seun van Scottsdene omstreeks drie weke gelede naby sy huis deur getref. Hy het ’n dag later gesterf.

Charlene Williams, ’n mammie wat drie van haar kinders verloor het, het ook die geleentheid bygewoon.

Volgens Williams is haar dogtertjie Davidene in die ouderdom van 10 oorlede toe sy ’n gewas op haar long ontwikkel het.

Haar een seun, Ro­len (18), is voor haar deur doodgeskiet en haar ander seun, Ryno (18), is in ’n tref-en-trap-ongeluk dood.

Williams het aan Son gesê dat die geleentheid en bystand van die twee vroue vir haar baie beteken.

Sy sê: “Ek kan vandag sê dat ek berusting in God vind. Deur al die swaarkry waardeur ek is, het Hy nou alles van my skouers afgehaal.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters