24 dae gelede
‘Dooie’ laitie gaan huis toe
BLYPLEK: Sammy Shibambu (20) wys waar hy slaap om hom teen die elemente te beskerm.  ~ Peter Abrahams

’N JONG man sal binnekort met sy familie herenig­ word nadat hy langer as twee jaar in ’n groot pyp onder die Seepunt Promenade gewoon het.

Sammy Shibambu (20), oorspronklik van Pretoria, is een van die duisende haweloses in Kaapstad.

Sowat drie jaar gelede het hy in Kaapstad groener weivelde kom soek.

Shibambu sê: “Ek het tot in die Kaap gehike om te kom werk soek.

“Ek het in Seepunt geskarrel en karre gewas en geld verdien deur ’n parking guard te wees.

“Ek het toe ’n geboue-job gekry, maar ná ’n jaar het ek my werk verloor.

“Ek was toe terug op die straat.

“Ek is al drie keer beroof en met ’n mes aangeval.

“Ek kon nie met my familie in aanraking kom nie, want al my goed is gesteel.

“Dit was swaar om op straat te bly en ek het verskriklik na my familie verlang.

“Dit het gevoel my familie het van my vergeet.

“Ek het geleer om na myself om te sien en geskarrel om aan die lewe te bly.”

Maar Shibambu se swaar lewe in die Kaap staan nou einde se kant toe.

Hy klim vanaand op die bus om terug te keer na sy familie.

Sy mense in Pretoria het gedog hy is al dood.

Cecelia Khensani (69), Shibambu se tante, vertel: “Ek het Sammy grootgemaak. Hy het nie meer ouers nie.

“Hy het net van die huis af verdwyn.

“Ons was baie bekommerd en het gedink hy is dood.

“Ons is net bly hy lewe en kom nou terug huis toe.”

Volgens Shibambu kan hy nie wag om sy mense weer te sien nie.

Veldwerker

Project Hope in Seepunt het dié wonderwerk vir Shibambu moontlik gemaak.

Kevin Alexander van Project Hope het na Shibambu uitgereik om hom met sy familie te herenig.

Alexander vertel: “Ek is ’n veldwerker vir Project Hope en gesels soms met die ouens wat op straat slaap.

“Ek het gesien hy lyk baie verlore en ongelukkig.

“Hy het my vertel hoe hy op straat beland het.

“Ek het aangebied om hom met sy familie te verenig.

“Hy was baie vreeslik dankbaar daarvoor.

“Ons het vir hom ’n buskaartjie gekoop en hy gaan vandag op die bus klim terug Pretoria toe.

“Sy familie het gedink hy is dood toe ek hulle kontak.

“Hulle is baie dankbaar en opgewonde daaroor dat hy terugkom huis toe.”

Volgens Alexander woon daar in Seepunt omtrent 80 mense op straat.

Die afgelope maand het Project Hope reeds agt mense weer met hul familie verenig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters