23 dae gelede
Dis weer tyd vir smile
POENANKIES: Tiané Wenn is geopereer.  ~ Peter Abrahams

VIER kinders is die afgelope week in die Tygerberg-hospitaal geopereer om defekte aan hul gesig te herstel.

Die Smile Foundation is ’n NGO wat kinders help met gesigstoestande soos gesplete verhemeltes. Die stigting doen rekonstruktiewe gesigsoperasies en ander behandeling.

Wendy Canterbury, hospitaalkoördineerder van die Smile Foundation, bevestig vier kinders het in die Tygerberg-hospitaal hul smile gekry.

“Dis die eerste operasies wat sedert Maart gedoen is weens die lockdown. In November het ons ’n Smile-week en dan sal meer kinders geopereer word.”

Klein Tiané Wenn van Eersterivier is maar ses maande oud en sy het ’n gesplete bolip.

Haar ma, Tania (32), sê sy is baie nervous, maar ook baie opgewonde oor die operasie.

Sy het eers Woensdag gehoor Tiané kon die Donderdag geopereer word.

“Dit was baie skielik en ons het gou gepak om haar reg te kry vir die hospitaal.”

Sy sê hulle het voorheen vorms ingevul vir die operasie en nou het dit vinnig gekom.

GROOT HAAS: Klein Tiané Wenn en haar ma, Tania, wag by die hospitaal. Foto: Peter Abrahams

Uitgestel

“Smile Foundation het my toe gebel en gesê ons moet inkom.”

Klein Leneach Claasen (een en ’n half jaar) van Scottsville in Kraaifontein is ook geopereer.

Haar mammie, Marsha-Lee (25), sê hulle het verlede week ’n boodskap ontvang dat haar kind geopereer kan word.

Weens Covid-19 is talle operasies in Suid-Afrika en wêreldwyd uitgestel.

Net operasies wat noodgevalle is, is gedoen.

WAGTYD: Leneach Claasen se ma, Marsha-Lee, hou haar vas. Foto: Peter Abrahams

Dr. Alexander Zühlke, ’n senior spesialis by die departement van plastiese snykunde van die Tygerberg-hospitaal, sê omdat Covid-19 ’n backlog veroorsaak het, sal dit vier tot vyf maande neem om op datum te kom.

“Dan praat ons ook nie eens van die nuwe pasiënte wat na die hospitaal kom nie.”

Zühlke sê hy het omtrent 20 pasiënte wat haaslippies of gesplete verhemeltes het en wag om geopereer te word.

Daar gaan ook elke Donderdag operasies plaasvind om ’n paar kinders te help en meer operasies sal gedoen word sodra dinge verbeter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters