Verlede maand
Dis egte engele dié
engele: Die span van die Anne’s Angels Foundation Eersterivier is (voor van links) Veronique Ratz, Amy-Lee Booysen, Paythan Booysen en Shirmonique Prens. Agter van links is Anne Antonie, Zenden Januarie, Elias Antonie, Henry Prens, Olive Phineliphi en Lee-Ann Booysen. FOTO VERSKAF  ~ 

’N LIVE music show word volgende maand in Eersterivier gehou om die Anne’s Angels Foundation te launch.

Die organisasie speel ’n groot rol daarin om aan minderbevoorregte kinders in Eersterivier kos te gee. Dis begin omdat hulle besef het daar is ’n yslike nood in die gemeenskap.

Anne Antonie en haar man, Elias, het die visie gehad om die organisasie te begin en het in die lockdown begin om kinders in haar area te voed.

Sy het het hampers uitgedeel aan gesinne wat swaarkry en sy’t ook ’n sopkombuis gehad.

Volgens die bemarkingsbestuurder van die organisasie, Henry Prens, het baie mense in die lockdown hul werk verloor en die Antonie-gesin het ingespring om die gemeenskap in Devon Park te help.

Prens sê met die aankondiging van die lockdown op vlak 5 was baie kinders ook sonder kos en dit was nodig om vir hulle kos te gee.

“Anne het ’n droom gehad om eendag die jeug te help skills leer en ’n bewusmakingsprogram te begin om kinders in te lig oor dwelmmisbruik en die gevare wat dit inhou.”

Prens sê hulle wil die voedingskema ook uitrol na verskillende areas in Eersterivier.

Die launch word op Vrydag 18 Desember by die Community Women Action Centre in Van Riebeekweg, Eersterivier, gehou. Bekende artists soos Q-Rock en Austin Rose gaan optree.

As gevolg van die Covid-19-maatreëls kan daar net 80 mense in totaal wees sodat social distancing toegepas kan word.

Streng Covid-19-regulasies sal deurgaans toegepas word.

“Ons het net 50 plaas­like kinders in die areas geïdentifiseer om die event by te woon. Hulle sal onder streng toesig beheer word en hulle sal net volgens ’n uitnodiging toegelaat word.”

Radio Eersteriver se bestuurder, Josh Jr. Kinnear, en sy span gaan die event uitsaai. Dit begin 11:00.

Zaida Julius van EduBiz gaan ook met die kinders kom praat oor hul opvoeding.

Prens wil graag spe­siaal dankie sê aan ál die mense wat hulle al geborg het. “Hulle weet wie hulle is.”

Die organisasie het ook ’n Secret Santa Shoebox Drive wat 15 Desember eindig. Mense kan unisex presente skenk. Die bokse word toegemaak met presente in en dit kan vir seuns of meisies wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters