24 dae gelede
Digter se woorde dra krag
PASSIE: Zebulon Kochk sê hy skryf dag en nag.  ~ Jonathan Lestrade

AS GANGSTERS aan jou deur kom klop om vir jou te sê jou gedigte raak hulle diep, moet jy weet jou woorde dra krag.

Vir die digter Zebulon Kochk, bekend as “Zebbie­kaans” in sy gemeenskap, motiveer dit hom om aan te hou skryf.

“Vir mense wat hul lewe vergooi en vir my sê wat ek doen is fantasties, is onverwags, maar ek waardeer dit. Dit beteken hulle lees en verstaan my woorde,” sê Kochk.

Die 21-jarige van Lovers Lane in die Paarl sê sy passie vir woorde en Afrikaans is in sy bloed en niks gee hom meer plesier is as om te skryf nie.

Die jong digter is altyd met pen of potlood en papier in die hand, gereed om ’n unieke en spontane gedig te skryf. Hy sê hy skryf op sy beste in die stilte.

“Wanneer die krag afgaan, is dit baie stil en dis vir my fantasties. Dan vloei die woorde deur my ink. Gewoonlik is dít wanneer daar nuutskepping is vir my.”

Kochk sê sy liefde vir Afrikaans is eintlik ’n passie wat grens aan verslawing.

“Afrikaans is sentraal in alles wat ek doen. As dit nie vir Afrikaans was nie, dan kon ek nie die mooi gedigte geskep het nie.

“Ek gebruik nie Kaaps in my gedigte nie en baie mense vat my aan daaroor, maar ek voel elkeen het ’n unieke gawe en as jy die gawe het om Standaardafrikaans te skryf, doen dit.

“Maar daar bestaan nie ’n ding vir my soos ‘ek kan nie’. Dalk in die toekoms skryf ek iets Kaaps,” sê hy.

“Op die ouderdom van nege het ek besluit ek gaan ’n gediggie neerskryf en al woord wat ek daarvan kan onthou, is hartlammetjie. Wanneer ’n mens jonk is, weet jy nog nie rêrig of dit gedigte is nie en jy vat dit nie kop toe nie.

“Ek wil met moeite en toewyding Afrikaans gebruik om bo verwagting te presteer.”

HARDE WERK: Zebulon Kochk sê hy is gefokus en werk elke dag om ’n verskil te maak en om iemand te raak. Foto: Jonathan Lestrade

Kochk sê hy skryf oor persoonlike ervaring en wat rondom hom aangaan.

“Iets kon op skool gebeur het, dan skryf ek daaroor. Of ’n dametjie wat verkrag is of vroumense wat aangerand word. Ek skryf ook oor liefde, meisies en muisneste, soos my ma altyd daarna verwys.

“My verbeelding is baie ryk en ek toon baie fasette as ’n digter, want ek skep hierdie beeld in my gedagte en die woorde vloei net so.”

Roem

Kochk sê sy groot droom as digter is om sy eie Zebbiekaans-radioprogram op die lug te kry om poësie op ’n vlak te bring waar mense dit daagliks kan hoor en ervaar.

Hy het laas jaar ’n Koker-prys van die Afrikaanse Taalraad gewen vir die bevordering van Afrikaans in die jeugkategorie.

Hy skryf tans ’n paar gedigte wat deel gaan wees van sy bundel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters