3 maande gelede
Dié skenking help heelwat
Fountain Of Hope .FOTO:JONATHAN LESTRADE
GELUKKIG: Die Fountain of Hope-werkers is dankbaar vir die gul donasie wat hulle ontvang het.  ~ Jonathan Lestrade

“DIT haal ’n groot las van my skouers af.”

So sê Vanessa Adams, stigter van die Fountain of Hope-gemeenskapsorganisasie in die Paarl, nadat sy ’n skenking ter waarde van R20 000 van Hollywoodbets ontvang het.

Sy sê dit gaan ’n groot verskil maak in die werk wat sy doen.

“Dit is ’n eer om gekies te word tussen ál die ander organisasies in die gemeenskap om die donasie te ontvang. Dit haal ’n groot las van my skouers af, want ons het verskillende goed gekry wat ons baie gaan help,” sê Adams.

Raaksien

Sy sê die bydrae tot haar organisasie het ’n groot gat in haar sak toegemaak.

“As ons nie funding kry nie, moet ek maar provide vir dit wat ons nie het nie. So, dit is ’n groot riem onder die hart om te sien daar is mense wat ons raaksien,” verduidelik sy.

En as dit nie vir Benito Williams van Hollywoodbets was wat van Adams se werk geweet het nie, sou hulle dalk nie ’n donasie ontvang het nie.

Williams sê hy’t al voorheen in kontak gekom met Adams en het ook baie gehoor van die werk wat sy doen en hoe sy ’n verskil maak in die gemeenskap.

“Ek het toe die besluit geneem om haar organisasie te nominate vir ’n donasie deur die maatskappy en sy is gekies om dit te ontvang.

“Ek het gevoel dat sy rêrig ’n verskil maak, veral in jong mense se lewe in die gemeenskap en dat sy die geskikte persoon is vir ’n donasie. Ons hoop dat sy deur dié donasie haar werk verder kan doen en dat dit vir hulle ook ’n boost gee,” sê Williams.

Zikhona Buzani, CSI-koördineerder van Hollywoodbets, sê dis baie belangrik vir hulle om na die gemeenskappe waarin hulle operate, te kyk en te ondersteun.

“Ons is baie passionate om gemeenskappe op te lig. “Ek het die profiel van Fountain of Hope gelees en het gesien dat dit ’n organisasie is wat iets groots doen

Kook

“Hulle uplift die gemeenskap deur hul sopkombuis asook die programme wat hulle vir die jeug beskikbaar het.

“Ek het ’n surprise visit kom doen en daardie dag het ek self gesien wat hulle doen.

“Die vroue was besig om te kook en ek was bly om dit te sien.

“Ek het met daardie inligting aan my bestuurders gesê dat dit definitief ’n organisasie is wat ons moet ondersteun,” sê Buzani.

Buzani verduidelik die donasie sluit in uniforms, kospotte, gas, papier en ink vir die internetkafee, asook ’n digitale kamera.

Verder het hulle boumateriaal geskenk.

Adams sê hulle sal die boumateriaal gebruik om een van die agterkamers klaar te maak wat as ’n klas- of stoorkamer gebruik sal word.

“Ons kry ook ondersteuning by ’n ander instansie wat ons help om die sopkombuis klaar te maak.

“Hopelik sal ons dit binnekort, voordat die diep winter ons tref, klaarkry,” vertel sy opgewonde.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters