4 maande gelede
Dié jeugprojek beslis ’n grote
OPTIMISTIES: Cathleen du Plessis en Chris Prins het groot planne. Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

DAAR is beslis niks klein aan die Belhar doennit Small-projek nie.

Die Belhar-jeugontwikkelingsforum (BYDF) is tans kliphard aan die oefen om van die alombekende skrywer Adam Small se bekendste werke op die planke te bring.

En aan die stuur en slyp van die plaaslike talent, is Chris Prins, wat in die vroeë 1980’s bekendheid verwerf het vir sy drama-projekte by skole.

Prins en Son se eie oorle Melvin Whitebooi was destyds aan die spits van verskeie projekte om ’n liefde vir drama onder skoolkinders te kweek.

Prins, wat ná jare se afwesigheid weer sy deel wil doen om ’n liefde vir drama onder jeug­diges te kweek, sê hy sien daarna uit om lewe in Small se werke te blaas.

“Moenie ’n fout maak nie. Ons kinders het talent. Dit is net die geleenthede wat baie kere nie hulle kant toe kom nie,” sê hy.

“Ons is nog in die baba-fase van hierdie projek, maar niks verhoed dit om eendag ’n groot sukses te wees nie.”

Volgens Prins maak dit hom soms baie hartseer om te sien hoe die hedendaagse jeug agteruit gaan.

“Weet jy, baie van ons kinders weet nie meer wie historiese figure soos Josef Stalin en Adam Small is nie.

“Hulle wil eerder weet of Stalin ’n gangster of mert is en in watter area hy smokkel.

“Drama was destyds ’n tool waarmee kinders hulself kreatief kon uitleef. Ek wil ook maar net my deel doen om daai kreatiewe krane weer by ons jong mense oop te draai.”

Die BYDF se Cathleen du Plessis is op haar beurt baie opgewonde oor die projek.

“Tans is daar meestal meisies by die inisiatief betrokke, maar ons wil graag meer seuns ook involved kry. Dit is belangrik vir ons jong kinders om hulle hande op te steek en hulle talente ten toon te stel. As alles goed afloop, sal ons graag die show in die Baxter of Artscape wil aanbied.”

Du Plessis sê hulle is ook besig met ’n Boots4All-veldtog waardeur hulle skenkings soek vir jong meisies wat sokker speel.

“Ons het veral ’n tekort aan sokkerskoene vir die girls.

“Ons kinders het talent. Wat ons graag met hierdie projek wil bereik, is om eendag die Banyana Banyana-afrigter, Desiree Ellis, hierheen te nooi en ons meisies se talent vir haar uit te stal.”

Mense wat graag by dié projek betrokke wil raak, word genooi om Du Plessis te kontak by 071 877 0440 of om ’n e-pos aan belharyouth@gmail.com te stuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters