4 maande gelede
Dié girl weet wat sy wil hê
swot-tyd: So studeer Roshnay Britz vir die matriekeindeksamen.Foto’s: MELINDA STUURMAN  ~ 

SY IS klein, maar haar drome is groot.

Roshnay Britz (17) van Kalksteenfontein is opgewonde oor haar akademiese toekoms.

Dis omdat sy voorlopig aanvaar is deur ál drie universiteite in die provinsie.

Roshnay is op haar gr. 11-rapport en eerstekwartaal-matriekpunte deur die Universiteit van Wes-Kaapland, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad voorlopig aanvaar vir ’n B.Com.-graad.

Roshnay, ’n matrikulant aan die Goodwood College, sê sy sien uit daarna om haar vlerke te sprei.

Voet

“Dis ’n groot ding om ’n matrieksertifikaat te hê, maar dis nóg belangriker wat ’n mens vorentoe daarmee gaan uitrig,” herinner sy.

“Ek is nie nou bekommerd oor die financial aspect nie. Vir my is dit nou belangriker net om ’n voet in die deur by dié instansies te kry.

“Ek sal later worry oor die geld.”

Roshnay sê sy weet goeie punte sal haar ’n voordeel bo ander­ aansoeke bied, daarom werk sy baie hard.

Sy sê: “My ouers­ is baie opgewonde oor my toekoms.

“Hulle het self nooit die geleentheid gehad om universiteit toe te gaan nie, so ek wil hulle trots maak.

“Dis ook danksy hulle onder­steuning dat ek so gefokus is op my eksamen.

“Hulle bly my vra oor hoe ek sover vaar, en dit wys vir my hulle stel belang, en dit motiveer my.”

Roshnay sê sy sal nooit toelaat dat die omgewing waarin sy woon en die negatiewe elemente daarvan haar afsit nie.

“Dit het nog nooit by my opgekom dat die plek waarvandaan ek kom, enige negatives op my toekoms sal hê nie,” sê sy selfversekerd.

“Ek weet wat ek uit die lewe wil hê en ek sal bereik wat ek my voorgeneem het.”

Syfers

Roshnay wil graag wiskunde en besigheidstudies studeer, met finansies as major.

Sy sê: “Ek weet waarin ek goed is, en dis syfers – ek wil graag daarmee werk.

“So, ek sien daarna uit om my studies te begin by enige van dié universiteite, maar ek eye veral een.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters