4 maande gelede
Derek oorwin dwelmdrama

ASHTON. – Hy het sommer kwaai in drugs verval, maar gelukkig toe weer opgestaan.

Baie Sonlanders sal Derek Plaatjies (25) nog onthou toe hy in 2016 aan SA’s Got Talent deelgeneem het.

Derek was een van die land se gunstelinge en het in sy oudisie in Kaapstad die eerste Golden Buzzer gekry.

Skamerig

Derek is toe na Joburg gevlieg waar hy derde in die finale geëindig het.

In ’n onlangse onderhoud met hom was hy maar baie skamerig.

Derek sê sy verlede was baie goed, maar ná SA’s Got Talent het sy hele lewe ver­ander.

“Ek en my bestuurder het nie meer goed oor die weg gekom nie,” vertel hy.

Volgens hom het hy nooit ’n blou sent gesien wat hy by die kompetisie of by een van sy gigs gemaak het nie.

“Ek het toe besluit om terug na my ouers op Saron te gaan.”

Daar het hy in die strik van drugs geval – in so ’n mate dat hy selfs dae lank in die polisieselle moes lê.

“My lewe het toe vinnig in ’n nagmerrie verander,” erken Derek met ’n traan in die oog.

Volgens hom was hy verwaarloos en het hy geen klere en skoene gehad nie.

’n Bekende musikant, Danny Janse, het op ’n dag by ’n vriend van hom gehoor Derek se lewe het sommer baie sleg agteruit­ gegaan.

“Ek het toe self na Saron getravel en Derek gaan opsoek,” sê Janse.

Hy vertel toe hy Derek ontmoet, was hy gedrug, vuil en verwaarloos.

Janse sê hy het Derek toe na sy huis in Ashton geneem waar hy hom toe sommer self gerehab het.

Dit is nou reeds ’n jaar sedert Derek terug is in die musiekbedryf en hy is skoon van drugs.

“Ek kan net vir die liewe Vader dankie sê, want ek weet nie wat ek sou gedoen het as Danny my nie kom opsoek het nie,” vertel ’n duidelik dankbare Derek.

Deesdae preek Janse en Derek by kerke en besoek skole en doen motiveringspraatjies.

Derek se boodskap is: “Dit maak nie saak waardeur mense gaan nie.

“Daar is ’n God van genade wat sal toesien dat wonders gebeur.”

  • Mense wat Derek en Janse graag na hulle events wil nooi, kan hulle gerus by 061 151 9765 kontak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters