2 jaar gelede
Dankie, ooms, vir ons skoolskoene!
trots: Die leerders van die Primêre Skool Helenvale is baie bly oor die 188 paar skoolskoene wat aan hulle geskenk is. By hulle staan die hoof, Patrick Palmer.FOTO VERSKAF  ~ 

LEERDERS van die Primêre Skool Helenvale in die Baaise Northerns het laas week van oor tot oor gesmile toe hulle elkeen ’n paar splinternuwe skoolskoene gekry het.

Danksy dié spoggerige geskenk kan hulle nou hul beste voetjie voor sit.

Volgens Rina Potgieter, wat namens rdl. Pieter Hermaans opgetree het, is altesaam 188 paar skoolskoene aan behoeftige leerders geskenk.

Die kinders was baie opgewonde toe hulle Woensdag hul skoene gekry het.

“ ’n Kontrakteur en twee mans met SMME’s het bymekaargekom en besluit om vir die kinders in Helenvale iets te gee.

“Die mans het toe na die skool gegaan om by die onderwysers self te hoor watter behoeftes daar is.

“Hulle het uitgevind dis skoolskoene. Van die raadslid se kantoor se kant af het ons saamgegaan toe die oorhandiging gedoen is,” het Potgieter gesê.

Terrence Nyathi, die kontrakteur, het onder meer in die Helenvale-omgewing gewerk. “Ek het die armoede in die area gesien en dit het my hart geraak. Ek het plaaslike ouens met wie ek saamwerk, gevra om my te help om ’n projek te identifiseer waartoe ek ’n donasie kan doen.

“Die glimlagte op die kinders se gesigte het vir my waardering en gelukkigheid gewys.

“Ek het hulle gehelp, want veral dié tyd van die jaar is dit te koud om kaalvoet skool toe te loop.

“Die kinders was baie opgewonde. Dit het my dag gemaak,” het Nyathi gesê.

Patrick Palmer, die skoolhoof, is in sy noppies oor die skenking. “Sover ek verstaan, is dit ’n kontrakteur en twee mans, van wie een ’n oudskolier is, wat besluit het om in die gemeenskap terug te ploeg.

“Hulle het honderde pare skoolskoene geskenk en ek is baie dankbaar daaroor.

“Die behoefte onder ons kinders is baie groot.

“Van die 750 kinders wat ons by die skool het, is 50% behoeftig. Kinders loop met stukkende skoolskoene rond of soms trek hulle tekkies aan as hulle nie skoolskoene het nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters