Verlede maand
Couple vier ’n jaar van gee
DANKIE: Phillip Seroux (links) en sy vrou, Susanna, saam met Franzu Badenhorst van Famsa Karoo met die verjaardagkoek.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Die groeiende sopkombuis in Polisiehoogte met sy leuse, “Gee julle vir hulle iets om te eet”, het verlede week sy eerste verjaardag gevier.

“Ons kan nie die Here genoeg dank vir die seëninge van die afgelope jaar nie. Dis ongelooflik,” sê Phillip Seroux, wat saam met sy vrou, Susanna, die sopkombuis bedryf.

Sedert Oktober verlede jaar bedryf hulle ook ’n nasorgsentrum. Die verjaardagvieringe het al laas Woensdag begin met ’n partytjie vir die kinders en senior burgers.

Past. Frik Vermaak het ’n boodskap gebring en vir die voortbestaan van die kombuis en nasorgsentrum gebid.

Borge

Sondag is nog ’n partytjie gehou om dankie te sê vir al die borge en ondersteuners. Seroux sê hy en sy vrou het in April verlede jaar gereageer op ’n beroep wat ’n nasionale radiostasie op mense gedoen het om in die tyd van Covid-19-inperking in hul gemeenskappe betrokke te raak deur ’n helpende hand uit te reik na diegene wat swaarkry.

“Ons het besluit om iets vir die kinders van die buurt te doen wie se ouers tydens die inperking nie gewerk het nie. Aanvanklik het ons daagliks ’n sopkombuis vanuit ’n kerkgebou bedryf,” vertel hy.

Hulle het ná sowat ses maande besluit om borge te soek en ’n houtstruktuur op hul erf gebou. Die sopkombuis is toe uitgebrei met ’n nasorgsentrum waar kinders ná skool besig gehou kan word.

’n Kombuis is ook dié jaar aangebou vir die bereiding van die sop en etes. Tans word tussen 80 en 100 kinders en bejaardes elke dag van die week iets te ete gegee danksy mildelike bydraes van barmhartige Samaritane.

Volgens Seroux verskil hul sopkombuis van ander omdat die kinders meer kry as net iets om te eet. Hulle neem ook deel aan sportsoorte soos sokker, rugby, krieket, netbal en potspel.

Een van die sopkombuis se grootste ondersteuners reg van die begin af, Franzu Badenhorst, van Famsa Karoo, het die Seroux-egpaar Sondag bedank vir die reuse-werk wat hulle in die gemeenskap verrig.

Famsa bied gereeld programme by die sentrum aan waar kinders geleer word van familiewaardes en verhoudings.

Die sopkombuis en nasorgsentrum is Maandag tot Vrydag van 10:00 oop. Bel Seroux vir meer besonderhede of vir skenkings by 079 987 9486.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters