21 dae gelede
Corona stuit nie samaritaangesin
DANKIE! Stephanie Willemse, Sandi-Lindsey Powrie en Steven Willemse (regs) oorhandig geskenke en braaihoender aan Alzane Fortuin (middel) en sy pa, Abraham Fortuin van Swiegelaarstraat.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Die Willemses van Swiegelaarstraat het nie toegelaat dat Covid-19 hulle vanjaar verhoed om goed te doen nie.

Die gesin hou al die afgelope drie jaar ’n Kersfees-straatpartytjie vir inwoners en mense in die omgewing.

Volgens Steven Willemse moes hulle die straatpartytjie vanjaar om gesondheidsredes laat vaar. Hulle het besluit om tog iets te ete te berei vir senior burgers in die straat en omgewing en geskenkies aan kinders uit te deel.

Volgens Willemse kon hulle aan sowat 100 senior burgers ’n bakkie met braaihoender, ’n roosterbroodjie en slaai gee en dieselfde getal geskenkies aan die jongspan oorhandig.

Tema

“Al het ons almal vanjaar noustrop getrek, is ek dankbaar dat ons tog uit ons eie sak iets vir ons naaste kon doen,” sê Willemse.

“Vanjaar se tema vir die straatpartytjie, wat toe nie kon plaasvind nie, kom uit die Bybel. Dit lui: ‘Laat die kindertjies na My toe kom.’

“Kersfees is ’n tyd om te gee en daarom het ons weer gegee soos ons kan.”

Volgens Willemse is daar vir alles, Covid-19 ook, ’n tyd om te begin en ’n tyd om te eindig.

“Ons hoop 2021 is ’n beter jaar en dat ons volgende jaar weer soos die afgelope drie jaar die straatpartytjie vir die inwoners van Swiegelaarstraat en omgewing sal kan hou. Ons het groot hoop.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters