23 dae gelede
Cohen se kortfilms slaan pryse los
cohen
Cohen Davids saam met sy span wat gehelp het om van die rolprente 'n sukses te maak.  ~ Instagram

SOMS moet daar saam met die harde werk ook risiko's geneem word om die vrugte daarvan te pluk.

Dis presies wat Cohen Lorenzo Davids met sy mode-rolprent Interconnect gedoen het.

Die 28-jarige Wellingtonner het onlangs met twee toekennings vir sy rolprent by die 1 Minute Film Festival weggestap.

Interconnect het die toekennings Beste Fliek in die algehele kategorie asook Achievement in Creativity opgeraap.

Davids is van kindsbeen af al 'n kreatiewe mens en het baie vroeg geweet wat hy in die lewe wil word. Vandag vat sy drome vlam.

Nog 'n rolprent van Davids, Connect, het in die Beste Mode Rolprent-kategorie gewen.

“Ek was speechless. Ek het nie gedink Interconnect gaan vir Beste Fliek wen nie.

"Ek was ook surprised toe hulle aankondig Connect het vir beste mode-film gewen. Die Achievement in Creativity Award het my ook heeltemal uitgeboul,” sê 'n nederige Davids.

Hy beskryf die twee kortfilms as 'n professionele en persoonlike risiko wat hy gevat het.

"Ek moes aan myself aandag gee en in myself glo. Die toekennings weerspieël dat ek die regte keuses gemaak het - en dit was om in myself te glo," vertel Davids.

Om die projekte moontlik te maak het hy saam met FujiFilm SA, Panalaux SA, The Stunt Team, Ramabisi B&B en Auset Shop Swimwear gewerk.

Davids maak ook nie net mode-rolprente wat toekennings wegslaan nie, maar is ook  'n assistent-koördineerder vir stunts by 'n Britse TV-reeks Bulletproof 2.

Hy en sy span werk aan sy vierde mode-rolprent wat tans in na-produksie is. Daar word ook aan 'n vyfde een gewerk wat in voorproduksie is.

Davids verklap: "Die voormalige Mej. Suid-Afrika Tamaryn Green is deel van die vyfde mode-rolprent.

"Ek kan noem dit is iets wat nog nie voorheen in Suid-Afrika gedoen is nie en ons is baie opgewonde daaroor." 

Senses word einde November verfilm.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters