Verlede maand
Champ weier om te bly lê
KAMPIOEN: Eugene van Wyk laat hom nie deur die lewe onderkry nie.  ~ Leon Bonthuys

IN SY kort tyd op aarde het past. Eu­gene van Wyk (31) reeds ’n vol lewe gehad. So vol, hy bring ’n boek daaroor uit.

Die pastoor van Uitsig in Ravensmead sê hoe sy lewe het verander toe hy in matriek in Lentegeur, Mitchells Plain, op pad skool toe was en sy gangster-pa vermoor is.

Van Wyk se boek, The Fight in My DNA, handel oor sy lewe en hoe hy met God se krag sy lewe verander en sy destiny bereik het.

Sy boek se hoofstukke word rondes genoem – soos boksers se rondes in die bokskryt.

Die jong pastoor vertel hoe hy self deur die hel van drugs, alkohol en bendegeweld is. In die voorwoord van sy boek sê hy die lewe het hom platgeslaan meer kere as wat hy kan onthou, maar die kampioen binne hom het geweier om te bly lê.

Rehabilitasie

Sy geveg met die lewe het vroeg begin toe hy as een van ’n tweeling gebore is, maar sy broer dit nie gemaak het nie.

Hulle was vroeggebore en Van Wyk was die eerste drie maande van sy lewe in die hospitaal. Hy het Moesliem grootgeword en later in sy lewe Christen geword.

Ná sy pa se dood in 2003 het sy lewe verander en hy het begin kerk loop.

Hy het vir maatskaplike hulpwerker gaan swot en met rehabilitasie van verslaafdes en mense met sielkundige probleme gewerk.

Later het past. Michael Basson hom onder sy vlerk geneem en sy mentor geword.

In 2005 het hy lid geword van die Fountain of Life Tabernacle.

In 2006 het hy ’n Sondagskoolonderwyser geword en in 2007 is hy as jeugleier gekies. In 2008 het hy evangelis geword.

Vandag is sy geestelike leiers en mentors biskop WJ en lady B. Matthews van Uitsig. Van Wyk het ook by die Tehillah-rehabilitasiesentrum van suster Magda Kleyn gewerk.

Deesdae is hy ’n pastoor by die Hebrew Family Church in Uitsig. Hy en sy familie is sterk betrokke in die gemeenskap.

Hoop

Hy verduidelik die doel van sy boek is om hoop te bring en vir mense te wys om God se pad te loop is die regte pad.

“Ek wil hoop bring na diegene wat nie meer hoop het nie, ’n oor wees vir die dowe, ’n oog wees vir die blinde en ek wil die voete wees vir diegene wat nie kan loop nie,” sê Van Wyk.

Hy launch sy boek op 20 Desember in die Uitsig Civic Centre.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters