3 maande gelede
Can-do couple skryf matriek
GROOT DROME: Brigitte Heyns het laas jaar besluit om aansoek te doen om haar matriek te kry.  ~ Peter Abrahams

DIS nooit te laat om jou drome te bereik nie.

’n Egpaar van Kuilsrivier het daarvan gedroom om matriek agter hul naam te skryf.

Deur die lockdown het die egpaar toe skouer aan die wiel gesit om dié droom te bewaarheid.

Whealer (55) en Brigitte Heyns (57) van Nooiensfontein het laas jaar besluit om aansoek te doen om die nasionale matriekeksamen te skryf.

Brigitte, wat gekwalifiseer is as ’n grondslagfase-opvoeder, het besluit om matriek te kry sodat sy ’n beter begrip van die skoolwerk kon kry.

“Dit was vir my belangrik, want wanneer ’n mens aansoek doen vir werk, moet jy kan bewys jy het verder gestudeer. Ek het nog die ou kwalifikasies as onderwyser,” sê sy.

Omsien

Brigitte vertel dit was nie altyd maklik nie.

Sy sê: “Dit was moeilik om weer te studeer.

“Ek het nog voltyds gewerk.

“Dan het ek ook ’n familie na wie ek moet omsien, maar ek het geweet dis ’n proses wat ek net moet deurmaak.”

Nou, nadat sy die laaste matriekvraestel geskryf en haar pen neergesit het, kyk sy só terug daarop: “Dit was ’n wonderlike ervaring en ek kon self ervaar wat my kinders moes deurmaak.

“Ek het van die begin af goed gevoel en besluit ek gaan nie opgee nie.

“Ek het aan myself gesê dit is iets wat ek kan doen.

“Ek het gedink my ouderdom kan ’n barrier wees, maar dit was glad nie. Ek het dit baie geniet.”

Brigitte sê sy haar familie en vriende het haar oneindig baie ondersteun.

“Die nagskoolonderwyser het ons in die lockdown baie gehelp en aangemoedig omdat ons nie in kontak kon kom nie, maar ons het deurgedruk.”

MOEDIG: Whealer (55) en Brigitte Heyns (57) het nie dat ouderdom in hul pad staan om matriek agter hul naam te skryf nie. Foto: Peter Abrahams

Maar dié moedige vrou het nie alleen gestaan nie.

Heelpad aan haar sy was haar man, Whealer, wat nes sy besluit het dis tyd om matriek agter sy naam te skryf.

Van sy ervaring vertel hy: “Daar is baie dinge wat ek kan doen. Maar die een ding wat ek rêrig wou bereik het, was om matriek te behaal. My seun het my geïnspireer omdat hy studeer en werk. Toe besluit ek ook om oor my fear te kom en dit te doen.”

Hy vervolg: “Ek het deur my studies vir my matriekeksamen besef ek het ’n photographic memory.

“Ek kon studeer en die werk het oor en oor in my kop gespeel.

Gekoppel

“Voorheen het ek altyd gehoor ek is dom.

“Toe het ek ‘dom’ ge­challenge” en geglo ek sal slaag.”

Whealer voeg by beplan nou om verder te studeer.

Hy sê: “Ons kan enige iets bereik as ons wil. Dis mos nooit te laat nie.

“Drome word nie aan jou ouderdom gekoppel nie en dit stop nie in ’n sekere stadium nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters