19 dae gelede
Bougroep doenit vir die mense
ENTOESIASTIES: Eldu Daniels (25) en Do­neyle Stander (20) weet nou hoe om ’n huis te bou.  ~ Jonathan Lestrade

DIE probleme wat ons ervaar, is niks in vergelyking met wat baie mense in informele nedersettings ervaar nie.

Só meen Doneyle Stander (20) van Kleinvlei in Elsiesrivier, een van The Shackbuilder se studente wat onlangs by dié backyard varsity begin het.

Die kliniese sielkundige Quinton Adams, stigter van The Shackbuilder, het dié varsity onlangs gestig om die jeug te help om self ook shackbuilders te word.

Stander sê hy het aangesluit omdat dit hom die geleentheid bied om iets te leer waarvan hy vantevore niks geweet het nie én om terug te gee aan sy gemeenskap en andere.

Hy was onder ’n groep van 13 studente wat sowat ’n week gelede na Groot-Brakrivier, naby George, is om ’n vrou se huis te herbou.

Volgens hom was dit ’n ervaring wat hy nooit sal vergeet nie.

“Ons het geleer hoe om in ’n span te werk en dít het vir my die meeste uitgestaan. Ons het so baie van mekaar geleer en plekke gesien wat ek en die ander studente nog nooit van geweet het nie.

“Dit was ook mooi om te sien hoe dankbaar die vrou was wie se huis ons herbou het. Dit laat ’n mens goed voel wanneer jy iemand in nood kan help,” sê hy.

Stander sê hy het ook besef daar is baie mense wat sukkel en hy moenie dit wat hy in sy lewe het vir granted vat nie.

Uitgevind

“Daar is baie mense wat in bouvallige strukture woon en hulle wil hul omstandighede verbeter.

“Deur wat ons nou doen, kan ons ’n klein verskil maak,” sê hy.

Calvin Coetzee (32), bedryfsbestuurder van The Shackbuilder, sê hulle het uitgevind sommige van die studente was nog nooit buite die Kaap nie.

“So, ons wou vir hulle meer blootstelling gee aan ander plekke in die provinsie.

“Dit was ’n field trip en daar het hulle deur die hele bouproses gegaan en geleer hoe om ’n huis aanmekaar te sit.

“Dit gee vir hulle die geleentheid om meer employable te wees én meer skills te leer,” sê hy.

Coetzee sê toe die groepie studente die vrou se huis vir die eerste keer gesien het, het dit ’n groot impak op hulle gehad.

Coetzee voeg by dat hulle ook dankbaar is vir al die besighede en individue wat donasies gemaak het wat hulle benodig om hul werk te doen.

“Ons is dankbaar vir dié besighede wat weens die Covid-pandemie ook maar swaar trek, maar steeds ’n hand uitgereik het om ons te help,” het hy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters