2 maande gelede
Bougeld rol in
werk saam: Van links bespreek Abe Martin, Edward Daniels, Ivor Collins (skoolhoof, agter), Anthony Manuel en Adwill West die planne. Foto verskaf  ~ 

BEPLANNING vir opgraderingswerk by die Senior Sekondêre Skool Paulus Joubert­ in die Paarl verloop vlot.

Dit het uitgekom op die onlangse alumni-vereniging se lente-ontbytvergadering.

Die vergadering is deur die bestuur van die vereniging en ander oudleerders bygewoon.

Die hoofspreker was landdros Patrick Ross, eerste beskermheer van die vereniging en ook ’n bekende in karate-kringe.

Ross het gepraat oor mo­rele verval onder die jeug en die rol van die gemeenskap in die algemeen en die skool in die besonder, in die bekamping daarvan.

Hy het gesê die gemeenskap moet verantwoordelikheid vat vir die optrede van nie net kinders nie, maar ook volwassenes.

Die PJSS Alumni se groot projek behels die aanbou van toiletgeriewe, ’n kombuis en ’n verhoog in die skoolsaal.

Die sakeman Adwall West het verduidelik die finansiële bydraes van rolspelers word tans gefinaliseer.

Die alumni-vereniging het R100 000 bewillig as sy bydrae tot die projek, terwyl die skool en die konstruksiemaatskappy Isipani ook geld bewillig het.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sal 40% bydra van die totale bydrae wat deur die rolspelers ingesamel word. Die totale begroting is R1,8 miljoen.

Mario Williams, voorsitter van die vereniging, het sy tevredenheid uitgespreek met die bywoning en die belangstelling wat getoon is deur die oud-leerders.

“Die passie vir die skool en die gemeenskap was byna tasbaar en die besprekings was vrugtevol.

“Baie goeie idees is rondgegooi en ons sien uit daarna om voort te bou op die grondslag wat ons gelê het.”

Williams sê hy hoop om meer oud-leerders te sien by die werksessie wat vir die eerste week van November beplan word.

Oud-leerders wat dit wil bywoon, kan Charles Solomons by 082 202 3263 kontak. Besighede wat betrokke wil raak, is ook welkom om Solomons te bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters