9 maande gelede
Borskanker: Laat toets jou nou
bewustheid: Dr. Noma­french Mbombo (vyfde van links) saam met vroue van die organisasie PinkDrive by die Breast Mobile Unit. Foto verskaf  ~ 

’N VELDTOG is by die Mitchells Plain-hospitaal gehou om vroue bewus te maak van borskanker.

Dit is juis nou Borskanker­bewustheidsmaand.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het die hospitaal besoek saam met die organisasie PinkDrive.

Mbombo sê dié maand gaan hulle daarop fokus om vroue en mans meer bewus te maak van die siekte. “Borskanker raak 27 vroue uit elke 100 000 en veroorsaak baie sterftes.

“Die feit is dat meer en meer vroue in Suid-Afrika borskanker kry. Tussen April 2017 en Maart 2018 het 7 536 pasiënte ons klinieke besoek. In 608 gevalle is borskanker geïdentifiseer.”

Volgens Mbombo word by die Groote Schuur-hospitaal weekliks tussen 10 en 20 nuwe gevalle van borskanker aangemeld.

Wêreldwyd

“Ons het ’n vermeerdering van 6,8% van nuwe kankers gesien.

“Wat veral onrusbarend is, is dat meer kanker by vroue onder 30 gediagnoseer word.”

Volgens Mbombo kry 1 uit 8 vroue wêreldwyd borskanker, maar in die Wes-Kaap is dit 1 uit 12.

Mbombo vra vroue en mans om hulle te gaan toets. “Doen dit so vroeg moontlik. Hoe vroeër dit opgespoor word, hoe groter is die kans dat dit beheer kan word.”

Volgens Mbombo word borskanker die laaste tyd by al hoe meer mans gediagnoseer.

Dit is ook so dat familie-geskiedenis ’n groot rol speel in die opdoen van die siekte.

Mense kan die risiko’s verminder deur gesond te eet, te oefen, op te hou rook en matig te drink.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters