2 jaar gelede
Boksklub hou jeug op koers
Aitsa! Die “Muhammad Ali’s” van môre wys waarvan hulle gemaak is! Foto: Twitter  ~ 

“ONS kan nie almal polisieman speel nie. Dis hoekom ek my deel doen. Dis ál wat ek kan bied. Ek wil baie graag sien dat misdaad in die kiem gesmoor word.”

Só meen Mbuzeli “Coach” Mpofu, president en stigter van die Eersterivier-boksklub.

Vir hierdie nederige voormalige wêreldkampioen met die sagte stem gaan dit oor meer as om net fisiek houe op die regte manier uit te deel.

Hy wil dwelmmisbruik, bendegeweld en misdaad in hul spore stuit deur die jeug op ’n positiewe en gesonde manier besig te hou.

“Een van my boksers was in die tronk; die ander was lid van ’n bende. So, ons het sessies waarin ons met hulle oor die lewe gesels.

“Daar is ’n lewe buite boks, soos in skool. Dit is ook baie belangrik,” meen Coach Mpofu.

Dit het alles vir hom in Khayelitsha begin. Hy en sy vrou, Lydia, het later Eersterivier toe getrek en die nood vir ’n boksklub in die gemeenskap raakgesien.

Hy sê: “Dit is die heel eerste boksklub hier in Eersterivier. Hier is nie eens ’n gym of enige naskoolse aktiwiteite nie. Dit is hoekom ons dié klub begin het.”

Die klub spog met amper 30 lede, wat Maandae tot Donderdae tussen 16:00 en 18:00 tyd in die veeldoelige sentrum deurbring.

Seuns en meisies is welkom. En indien jy jou somer-lyfie gereed wil kry, is hierdie net die plek vir jou.

David-John Bailey, visepresident en mede-afrigter, sê: “In die eerste uur is dit net fiksheid. Daarna oefen ons tegniek. Dis wanneer Coach oorneem.

“So, as jy nie ’n bokser wil wees nie en jy’s bang jy kry seer, kan jy ná die eerste uur gaan.

“Die hele punt is dat ons wil hê die mense moet terugkom.”

Al sukkel hulle finansieel, plaas dit glad nie ’n demper op hul positiewe uitkyk nie.

“Ek is passievol hieroor, want dit is my manier van terugploeg in die gemeenskap,” sê Bailey.

Hulle het hul eerste kompetisie in Julie gehad en die volgende kompetisie vind in Desember plaas.

Vir meer inligting, gaan kyk gerus op die webwerf eersteriverboxingclub.co.za of bel David-John Bailey by 073 875 2423.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters