2 jaar gelede
Boksklub gestig om kinders weg van kattekwaad te hou
OEFEN DAAI ARMS: Rogan Lepico (11) wys trots die Gelvandale Boxing Club se eerste paar bokshandskoene. Foto’s: charles pullen  ~ 
OEFEN DAAI ARMS: Rogan Lepico (11) wys trots die Gelvandale Boxing Club se eerste paar bokshandskoene. Foto’s: charles pullen
HARDE HOUE: Ashley Comedy (9, links) en Trey Mitchell (10) by die stigter van die boksklub in Gelvandale, Aubrey “Fishy” Simon.
KLEIN KAMPIOENE: Dié seuns gaan binnekort hulle bokstalent kan uittoets deur middel van die Gelvandale Boxing Club.

“ALLES het hier by die Primêre Skool Alpha begin. Die twee Whiteboy-broers, Chris en Bramley, het hier skoolgegaan en het in die 1970’s nasionale bokskampioene geword. Nou is hulle nageslag ook hier.”

So sê Aubrey “Fishy” Simon (66) van Beverley Hills in Gelvandale.

Vir hom is dit belangrik om die jong seuns van die Baai se noordelike gebiede iets te gee wat hulle sal weghou van kattekwaad en euwels soos dwelms.

En daarom wil hy ’n gratis boksklub by die Gelvandale-gemeenskapsentrum begin.

“Ek wil hulle graag leer boks op ’n vroeë ouderdom, wanneer ’n mens nog hul mindset kan help vorm.

“Ná gratis bokslesse by die Gelvandale-gemeenskapsentrum gaan ons selfs saam met die kinders na hul huise toe stap.”

Daarom het Simon gister vergader met opgewonde jong seuns en hul ouers oor die stigting en opening van die Gelvandale Boxing Club.

Tot dusver het Simon al vier gekwalifiseerde instrukteurs om die jong boksers op te lei.

“Ek het heel eerste met ouers gaan praat oor die moontlikheid van so ’n klub, en hulle almal dink dis ’n goeie idee,” sê Simon trots.

Simon wag glo nog op ’n antwoord van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se burgemeester, Danny Jordaan, asook die departement van sport, kuns en kultuur, oor moontlike borgskappe.

Simon gaan fondsinsamelings hou en Bingo aanbied om geld in te samel.

“Hulle (die kinders) is nog klein en verbetering gaan nie oornag gebeur nie.

“Daar is beslis baie talent hier in die Northerns.

“Wie weet? Miskien lewer hierdie klub ook kampioene gelyk aan die Whiteboy-broers op.”

Simon doen ’n beroep op die gemeenskap en sakeondernemings om die nuwe klub te help met skenkings of toerusting.

Belangstellendes kan Simon kontak by 063 313 9667 vir meer inligting.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters