27 dae gelede
Boeties gaan nie dat seer hul keer
GAAN LÊ NOOIT: Dirwyne Plaatjies skeer kleinboeta Robin Plaatjies se hare.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Twee boeties van hier is ongetwyfeld in ’n ander klas.

Nie net is die twee slimkoppe nie, hulle werk hard vir wat hulle wil hê.

Dirwyne (21) en sy boetie, Robin Plaatjies (16), het hul daddy onlangs ná ’n lang siekbed aan die dood afgestaan.

Dirwyne het hul pa tydens sy siekte versorg.

Die pa het so verswak, hy was mettertyd bedlêend.

Nie net het Dirwyne en sy boetie hul pa gehelp nie; in die tweevertrekhuisie moes hulle ook hul ouma en mammie help omdat dié ook baie siek is.

Die laities sê dit gaan nie baat om onder ’n boom te gaan sit en hulself te bejammer nie.

“Ons staan op en wys die mense wat in ons steek,” sê die boeties lekker spontaan.

Beide het soveel talent en hulle het onlangs besluit hulle moet dit gebruik om geld te maak.

“Dit gaan maar nie lekker met ons nie, veral ná onse daddy se dood, maar ek en Brother moet die pot aan die kook hou,” sê Dirwyne.

Robin sê die dood van hul pa motiveer hulle elke dag.

“Daddy sou altyd noem: ‘Onthou, Daddy wil hê julle moet hoogtes bereik,’ ” vertel die twee.

Diplomas

Robin sê dit was ook sy pa se laaste wens op sy sterfbed.

“Daddy was ’n baie slim man. Hy het nog voordat hy gesterf het, gesê ek en Dirwyne moet hoë hoogtes bereik,” vertel Robin na aan trane.

Robin is ’n leerder aan die Sekondêre Skool Langeberg. Hy het hope diplomas in sy hand.

“Ek wil bitter graag ’n rekenmeester word. Reeds vandat ek 10 jaar oud is, gaan werk ek in vakansietye by ’n bekende maatskappy,” spog Robin.

Dirwyne werk seisoentye op ’n plaas en die jong man skeer ook mense se hare.

Dirwyne en Robin wil graag dié boodskap in die wêreld uitdra: “Jy kan opstaan – ongeag jou omstandighede.

“Ons het nie geweet dat onse pa ons gaan verlaat nie, maar hy het in die kort tyd wat ons hom geken het, vir ons lewenslesse geleer.

“Hy het baie vir ons be­teken.

“Hy was die beste pa ooit.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters