24 dae gelede
Boerboel bobaas
Trotse ma: Ingrid Walduck kan nie genoeg oor haar seun se prestasie spog nie.  ~ Astrid Februarie

HY IS ’n bekroonde hondeteler wie se moeite nou vrugte afwerp.

Lloyd de Villiers van Mitchells Plain vertel dit vat baie tyd en geduld, maar dis alles die moeite werd.

De Villiers het sy eerste geregistreerde boerboel in 2013 gekoop en met die hond begin teel.

Hy’t laas naweek in Parys in die Vrystaat met sy twee jaar oue reun Busby Adam deelgeneem aan die internasionale boerboelkompetisie van die SA Boerboeltelersvereniging (SABBS) en gewen.

Busby Adam het nie net die kompetisie gewen nie, hy is ook as senior reun-kampioen, groot reun-kam­pioen, hond van die dag én hond van die jaar aangewys!

De Villiers spog: “Dit is ’n groot prestasie vir my.

“Dit is die eerste keer dat ’n persoon van kleur dié kompetisie wen. En die eerste keer dat iemand wen wat hulle eie hond geteel het. Ek is baie trots!”

Vir De Villiers is dit ’n leefstyl om honde te teel en te versorg. “Dit is soos om na ’n kind te kyk.

“Jy kan nie net weggaan as jy wil nie. Daar is nie vakansies sonder jou hond of honde nie. Hulle het elke dag aandag nodig.

“Busby Adam maak my baie trots – soos ál my ander honde. Ons het geskiedenis gemaak met dié prestasie en dit laat my goed voel,” sê hy.

De Villiers voeg by Busby Adam se suster Busby Eve is ook ’n kampioen. Sy het laas jaar aan ’n kompetisie deelgeneem en is as die junior kampioen gekroon.

De Villiers se ma, Ingrid Walduck, sê sy is baie trots op haar seun.

“Dis ’n wonderlike prestasie. Ek kan onthou hy het vir my gesê dit kos baie geld om honde te teel, maar dit sal eendag als die moeite werd wees.”

Passie

Walduck voeg by sy sal haar seun aanmoedig om hiermee aan te gaan.

“Hy het ’n passie vir honde en vir wat hy doen.

“Dis mooi om te sien hoe hy vir sy honde omgee,” sê die trotse ma.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters