Verlede maand
Blaser mik na bo
musiekster: Joshua Bogenhagen speel die hobo met soveel passie.Foto: Bohemia Hoffmeester  ~ 

HY BLAAS sy longe uit op sy hobo en dit maak hom baie gelukkig om dit te kan doen.

Joshua Bogenhagen (13) van Eikendal in Kraaifontein speel al die afgelope vyf jaar dié minder bekende, baie moeilike klassieke blaas­instrument.

Toe Joshua sy ma, Brendelene, op agtjarige ouderdom vertel hy wil die hobo bespeel, het sy ouers g’n clue gehad waarvan hy dan nou praat nie.

Hoewel hulle ’n baie musikale familie is, sê Brendelene sy het niks van dié instrument geweet nie.

Joshua het so ver gegaan om sy ma na die musiekwinkel te sleep om aan haar die instrument te gaan wys.

Bogenhagen vertel: “Ons het verby die musiekwinkel se venster geloop.

“Die instrument het in die venster gestaan en hy het histeries geraak toe hy dit aan ons wys.

“Ons het by die winkel ingestap en gehoor dit is nie ’n baie bekende instrument nie.

“Ons het toe besluit om hom te stuur na die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow, waar hy begin leer het om die hobo te speel.

“Hy het nogal redelik goed gevaar.”

’n Trotse Brendelene sê Joshua het nou al gevorder tot op gr. 5-vlak, wat hy aan die Associated Board of the Royal School in London behaal het.

Joshua spog en sê die rede hoekom hy in dié instrument begin belangstel het, was juis omdat so min mense dit bespeel.

Die talentvolle jong man vertel: “Ek het die musiek­instrument in ’n Kersfeeskonsert gesien.

“Ek was baie beïndruk, want daar was net twee mense in die orkes wat die instrument bespeel het.

“Ek het toe besluit om my ouers te sê ek wil ook dié instrument bespeel.”

Bogenhagen sê juis oor die instrument so onbekend is, is dit ook peperduur. So ’n instrument kan hulle nuut sowat R70 000 uit die sak jaag.

Sy sê: “Die een wat hy tans gebruik, het hy geleen.

“Hy speel volgende maand in Samro se nasionale Hubert van der Spuy-kompetisie.

“Ons wil graag vir hom ’n nuwe een koop oor syne nie meer goed werk nie.”

Bogenhagen sê as enigiemand vir Joshua met ’n donasie wil help, kan hulle haar by 072 380 1445 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters