21 dae gelede
Bid vir bib verby
Opgewonde: Die vier sooi-spitters is (van links) Jerome Lambaatjeen (wyksraadslid vir wyk 6), Noluthando Mwati, onderburgemeester, Anroux Marais, minister van kultuursake en sport, en Tertius Simmers, Suid-Kaapse LP. By hulle is rdl. Eva Fortuin (met flyers) en lede van die gemeenskap.Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Rose Valley se mense kry eindelik hul eie biblioteek.

Die eerste sooi is vroeër dié week gespit vir die bou van die nuwe gebou ter waarde van R8,5 miljoen.

Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, was by vir die geleentheid.

Die Wes-Kaapse regering het die geld vir die projek bewillig.

Die eerste R2 miljoen is by die geleentheid aan die onderburgemeester, Nolu­thando Mwati, oorhandig.

Marais het hoog opgegee oor die belangrikheid van biblioteke in die algemeen en oor die spit van die eerste sooi, wat die begin van die bouproses by dié een aandui. Die gemeenskap vra nou al geruime tyd vir hulle eie biblioteek.

Volgens Marais is 370 biblioteke tans by die provinsiale biblioteekdienste geaffilieer en dié getal groei steeds.

Sy sê sy wag gretig op die opening van die Rose Valley-biblioteek.

Sy het inwoners ook aangemoedig om deel te neem aan ’n projek van die departement waarin mense se eie stories op DVD opgeneem en soos ’n stem uit die verlede vir hul nageslagte bewaar word.

Die onderburgemeester het gesê sy hoop die inwoners van Rose Valley sal die biblioteek hul eie maak.

Sy hoop veral kinders sal hul kennis hier kom verbreed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters